KZN-boere maak self plan met paaie

Verskeie paaie word nou self deur boere herstel. (Foto: Verskaf)

KwaZulu-Natalse boere was moedeloos gewag vir die plaaslike regering om landelike toegangspaaie op te knap, toe spring hulle self in om hierdie paaie, wat verder deur swaar reënbuie beskadig is, te herstel.

Die byna onophoudelike reën in KwaZulu-Natal die afgelope paar weke – tot soveel as 400 mm in sommige gebiede – het grootskaalse verwoesting gesaai.

Benewens die honderde sterftes wat aangeteken is, en talle mense wat nou dakloos is, het hierdie verwoestende buie ook daartoe gelei dat baie landelike enkeltoegangspaaie verspoel is of byna onbegaanbaar is.

Belangrike landelike toegangsroetes in en uit Middel-Illovo in die Middellande en sommige dele van Creighton is erg beskadig. Die gemeenskap van Middel-Illovo is onlangs gestrand gelaat toe ʼn brug op die hooftoegangspad deur oorstromings verspoel is.

Brett Chubb, voorsitter van die Middel-Illovo Boerevereniging, sê die oorstroming het nadelige gevolge vir die hele gemeenskap ingehou.

“Suiker en hout kon nie uit die distrik vervoer word nie en om toegang tot brandstof te verkry, was onmoontlik. Dit het gelei tot die algehele stilstand van plaasbedrywighede, wat geen kos en geen inkomste beteken het,” sê hy.

“Daar is nie skole in die plaaslike omgewing nie; kinders kon dus nie skool bywoon nie. Sou ʼn noodgeval plaasvind, sou ambulanse, die polisie en veiligheidsmaatskappye ook nie toegang tot die gemeenskap kon kry nie. Die impak was geweldig.”

Om die plattelandse paaie in Middel-Illovo te herstel, is ʼn groot taak, en sonder enige hulp van die plaaslike regering, was hierdie gemeenskap genoop om hul eie geld te gebruik om die paaie weer in ʼn werkende toestand te kry. Dié herstelproses het die gemeenskap duisende rand uit die sak gejaag.

“Ons het gebruik gemaak van 15 trekkers en sleepwaens, vyf trekker-laaigrawe, borselsnyers, kettingsae, steengroef- en rotsvragte. Boonop het hierdie toerusting die nodige drywers en operateurs nodig gehad, asook agt kondukteurs, agt toesighouers en 60 personeellede om die werk gedoen te kry,” sê Chubb.

“As boere dit nie op hulself geneem het om hierdie paaie reg te maak nie, sou dit verskriklike gevolge vir die gemeenskap ingehou het. Ons sal enigiets doen om te verseker dat die paaie in die distrik weer veilig en funksioneel is.”

Een van die paaie het heeltemal weggespoel. (Skermskoot)

In Creighton, in die Harry Gwala-distrik, moes boere ook self die paaie regmaak wat heeltemal verspoel het. ʼn Pad tussen Creighton en Tarrs Valley, wat die tuiste van verskeie klein gemeenskappe is, is twee weke gelede tydens die oorstromings heeltemal weggespoel.

Volgens die gemeenskap het plaaslike regering tot op hede nog nie ʼn woord gerep oor die toestand van hierdie pad nie.

Die gemeenskap gebruik die pad daagliks om werk toe te gaan, asook plase en besighede in Creighton te besoek. Nou moet die inwoners te voet verby ʼn massiewe vyf meter breë sinkgat probeer kom.

Hayden Stokes, ʼn boer in die gebied, het begin om die pad te herstel met die hoop dat dit die gemeenskap weer op die been sal kry.

“ʼn Mens moet nou op jou eie onkoste, teen meer as R20 per liter diesel, alles moontlik doen om weer toegang tot die paaie te verkry.”

Volgens Stokes het die verwoeste paaie byna onbegaanbaar en gevaarlik geword om te gebruik. Hulle vul nou die groot gapings in die pad met skalie om te probeer keer dat die pad verder wegval.

Voordat boere die paaie op hul eie onkoste begin herstel het, was die boereverenigings in albei gebiede voortdurend in gesprek met die departement van vervoer.

“Ons het briewe voorgelê van almal wat deur die toestand van die paaie geraak is, talle vergaderings met verskillende belangegroepe gehad en amptenare na die paaie geneem ons bekommernisse aan hulle uit te wys,” sê Chubb.

“In gevalle waar die paaie wel herstel is, het daar kort-kort weer probleme opgeduik en ons het verdere vergaderings gehad oor die swak manier waarop die paaie herstel word.”

Stokes voer aan hoewel hulle dieselfde prosedures gevolg het vir die pad in Creighton, daar dadels daarvan gekom het en hulle moes steeds self iets daaraan doen.

“Dit is rampspoedig vir boere en landelike gemeenskappe wat van die paaie afhanklik is,” sê hy.

Sandy la Marque, uitvoerende hoof van die KwaZulu-Natal Landbou-unie, Kwanalu, sê hulle het samewerking van al die sfere nodig om probleme soos dié vinnig op te los.

“Ons vereis dat die regering, munisipaliteite en belanghebbendes op alle vlakke saamwerk om te verseker dat die fokus op die verswakkende infrastruktuur is en die ekonomiese implikasies daarvan,” sê sy.

“Wanneer ons saamwerk, kan meer gedoen word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

domheks ·

Kan iemand vir my vertel wat gebeur met al die lisensiegelde wat betaal word? Net salarisse??

Misky ·

Die boere steek hand in eie sak en maak reg en beweeg aan. Die res “demand”, steek aan die brand en toi-toi tot hulle hul sin kry.

“Need I say more…..”

SomeOne ·

die regering wat veronderstel is om julle te help gaan nou nog langer sloer
die regering sien dat julle nou self die paaie hertel en hulle gaan minder doen om julle te help
ek kan jul net sterkte toewens, hoop die regering kan dalk wakker word en iets begin doen met al die geskenkde, beskikbare geld wat daar is, en dit nie in hul sakke laat insink nie

Althes ·

Suid-Afrikaners kan net sowel sonder ñ regering regeer – al wat ons nodig het is ñ goeie wet en orde en justisiestelsel. My rating vir die regering is 0.5. Well done boere! Dis jammer dat ons ANC regering jul herhaaldelik faal.

Anel ·

Nou wonder ek wat word van die geld wat vir die herstel van die paaie geoormerk is as die boere nou self die herstelwerk doen? In ander lande sou die belangrikste paaie al klaar herstel gewees het. Hier moet daar nou eers gekyk word wie sit tender in, wie gaan dit kry, wat se omkoop geld gaan daaruit gemaak kan word. En dan kom dreig hulle nog die boere met onteiening sonder vergoeding. Wat ‘n ramp is hierdie regering nie! Dankie aan die boere. Dit wys net van watse stofasie hulle gemaak is! Kan nie sit en wag vir ‘n onbevoegde spul om eendag te besluit wanneer goed herstel gaan word nie. En die skade was heeltemal onnodig. As instandhouding gedoen was, sou dit nie gebeur het nie.

Papsak ·

Wel met hierdie regering gaan niks gebeur nie ons moet op staan en wys en begin self laat hulle kan sien ons kan sonder hulle patetiese anc regering

agnes ·

Wat n skande dat die boere nou die paaie moet Regmaak. Waarvoor betaal ons belasting en wie kry die geld wat beskikbaar gestel is?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.