ʼn Leerder van Belgravia High School in Kaapstad is geskors nadat hy Maandag een van sy klasmaats se hare aan die brand gesteek het.
Die Wes-Kaapse departement van onderwys het Woensdag aan Maroela Media gesê dat die skool onmiddellik ondersoek ingestel het en teen die leerder opgetree het toe die voorval plaasgevind het.
“As ʼn voorsorgmaatreël is die leerder geskors hangende ʼn tugverhoor,” sê Millicent Merton, die departement se woordvoerder.
Die voorval het glo Maandagoggend plaasgevind terwyl die onderwyser uit die klaskamer was. Klasmaats het dit op hul selfone afgeneem en dit intussen wyd op sosiale media versprei.
In die video kan gesien word hoe ʼn seun ʼn aansteker van ʼn ander leerling neem en agter die slagoffer gaan staan. Hy gooi ʼn vloeistof op haar hare, terwyl ʼn ander leerder sê: “Kyk hier, haar hare kan nie nat raak nie.”
Die seun lag voordat hy die slagoffer se poniestert aan die brand steek.
Hy blus vinnig die vlamme met sy hand, terwyl die res van die leerders uitbars van die lag.
Volgens Merton het die skool berading en terapeutiese ondersteuning aan die slagoffer verleen.
“Die Verteenwoordigende Raad van Leerders (VRL) sal ʼn veldtog teen afknouery by die skool aanpak.”
Die voorval volg kort nadat ʼn leerder van Mbilwe Sekondêre Skool in Thohoyandou, Limpopo, haar eie lewe geneem het nadat sy deur ʼn medeleerder aangerand is en haar klasmaats dit afgeneem het.
Talle skole in die Wes-Kaap het sedertdien veldtogte teen boeliegedrag van stapel gestuur.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
33 Kommentare
Kinders kan regtig so eenvoudig wees. Ek is baie bly die skool het dadelik daai mannetjie geskors. Almal wat so lekker saam lag moet sommer ook gestraf word.
Waar is die onderwyser wat in daai klas moet wees? Dis wanneer leerlinge so vir kwaadgeld rondsit dat sulke goed uitbroei. Dissipline en die verhoed van boeliegedrag en intimidasie begin by onderwysers op hulle poste en kinders wat konstruktief besig is; begin daar om probleme in skole en boelies te identifiseer, dan sal niemand berading nodig hê nie.
En die dames en here is ons pragtige land se jeug…..ons toekoms………………..
DIT is nou waar in die ou dae ses met die rottang vanpas was. Sommer vir die een wat afneem ook, want hy het presies geweeg wat gaan gebeur.
Die res van die klas sou ook sommer deurgeloop het…
Die slagoffer het ook nie berading nodig gehad nie, want sy het geweet hulle is klaar gestraf.
Wat besiel ‘n kind om so iets aan ‘n ander te doen??? Gaan my verstand te bowe