Kyk: ’n Krieketklub enig in sy soort

Foto: Verskaf.

Wanneer jy verby Hoërskool FH Odendaal in Pretoria ry, vang jou oog die bord van die Differently Abled-krieketklub (DACC). Onder die klubembleem staan die raakvatleuse in groot rooi letters: “A club with a difference, making a difference.”

En dit is ongetwyfeld ’n klub wat ’n verskil in krieketspelers se lewe maak.

“Ons is die enigste krieketklub van sy soort in die land en ons reël wedstryde en oefensessies spesifiek vir blinde, dowe, fisiek en verstandelik gestremde spelers. Ons speel in ‘gewone ligas’ – as jy wil – teen ander klubs in die Titans-streek,” sê Christo Pelzer. Pelzer dra die hoed van voorsitter, afrigter en soms ook speler.

Die klub spog tans met drie spanne en ongeveer 50 registreerde spelers.

“Ek hoop jy is gereed want ek sal vir dae lank oor die klub en sy spelers kan praat. Elke liewe speler beskik oor iets wat hom besonders maak en hom ’n unieke plek in jou hart gee,” het hy vroeër die week in ’n Whatsapp-boodskap laat weet.

Foto: Verskaf.

Danksy DACC se oopklubbeleid kan Pelzer en kie die spanne uithelp; ongeveer 10% van die klub se spelers het nie ’n gestremdheid nie.

Twee van die spanne speel “normale” krieket, maar ander reëls geld vir die blinde spelers terwyl die wedstrydbal wat hulle gebruik ook ’n paar verskille het.

“Die bal is van plastiek en met staalballetjies gevul om dit hoorbaar vir die kolwers en veldwerkers te maak. Ons het terselfdertyd die Titans oortuig om die blinde spelers in ’n liga in te skryf; al die spanne wat dan teen hulle in aksie is, moet volgens blindekrieketreëls speel.”

Spesiale brille sorg dat die speelveld gelyk is.

Bekwame afrigters maak die spelers touwys en gee genoeg aandag aan elkeen se behoeftes. Elke kolwer en bouler is immers uniek en elkeen het sy eie persoonlikheid; juis daarom is dit ’n vereiste dat ’n afrigter oor emmersvol geduld moet beskik.

“Ons probeer om veel eerder op hul sterk punte as hul swak punte te fokus. ’n Speler moet terselfdertyd die nodige vryheid gegun word om sy unieke stempel op die spel af te druk.”

Nadat ’n hele paar mense al navraag gedoen het, probeer die klub ook om ’n paar jonger spanne op die been te bring.

Foto: Verskaf.

“Die spelers vorm ’n hegte band met mekaar en nie een dink hy is beter as enigiemand anders nie. Hulle het harte van leeus!”

Maar wat beteken die klub dan vir sy spelers?

“Dit is ’n plek waar ’n speler nie anders gesien of hanteer word bloot omdat hy gestrem is nie. Hy kan homself wees.”

Soos wat Pelzer tereg sê: Dit is iets besonders om deel van die Diferently Abled-krieketklub te wees; waar elke speler ’n verskil in ’n ander se lewe maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.