Kyk: Nuwe jagluiperd vir Rietvlei

Die jagluiperd Thaba. (Foto: Verskaf)

Die jagluiperd Thaba is Dinsdag in die Rietvlei-natuurreservaat in Pretoria gevestig met die oog daarop om met die jagluiperdwyfie Njozi te teel.

Randall Williams, burgemeester van Tshwane, het in ʼn verklaring gesê Thaba het oorspronklik in die Shambalala-reservaat in Limpopo grootgeword. Hy is later in die Mount Camdeboo- private wildreservaat in die Oos-Kaap hervestig.

Gedurende sy tyd in die Oos-Kaap het die sesjarige mannetjie twee welpies by twee wyfies gehad voordat die besluit geneem is om hom Rietvlei toe te stuur.

“As deel van die Trust vir Bedreigde Spesies (EWT) se jagluiperd-uitbreidingsprojek sal Njozi permanent in die reservaat aangehou word, terwyl mannetjies deurlopend ingebring sal word om met haar te teel. Dié welpies sal na ander reservate gestuur word wanneer hulle volwassenheid bereik,” het Williams gesê.

Njozi het vroeër vanjaar die nuus gehaal toe sy in Mei uit die reservaat ontsnap het. Sy het egter later dieselfde week self na die reservaat teruggekeer. Sy het vermoedelik deur ʼn gat onder ʼn heining – wat deur kleiner diere gegrawe is – uitgekom.

EWT se uitbreidingsprojek beoog om die genetiese en demografiese integriteit van jagluiperds in 61 reservate landswyd te handhaaf. Die trust bestuur tans 421 jagluiperds regoor die land.

“Thaba word deur bewaringsbeamptes by die reservaat dopgehou en ons hoop om binnekort nuwe jagluiperd-welpies te verwelkom.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Tiptol

Mooi dier. Hoop jy is gelukkig in jou nuwe woning.

Ansie

Ek het vir al my vriende gese die wyfie wou net gaan inkopies doen toe sy weggelloop het. Sy het seker parfuum en lipsiffie gaan koop vir haar nuwe kerel.