Kyk: Oorstromings ná swaar reën in Polokwane

Water het Woensdag soos riviere deur die strate van Polokwane gevloei nadat swaar reën in dié gebied uitgesak het.

Video’s en foto’s wat op sosiale media gedeel is, wys hoe voertuie halfpad onderwater in strate staan, terwyl verskeie ondernemings en huise in veral informele nedersettings oorstroom het. Skade is ook aan infrastruktuur in die stad aangerig.

Verder moes inwoners van Hoërskool Pietersburg se seunskoshuis bontstaan om water met besems uit die koshuis en van die stoepe af te vee.

Posted by Hoërskool Pietersburg on Wednesday, February 1, 2023

Die skool het op sy Facebook-blad gesê dat meer as 75 mm reën “binne sekondes op die skoolterrein geval het”.

Die Polokwane- plaaslike munisipaliteit het lede van die publiek en padgebruikers versoek om uiters versigtig te wees.

“Omgevalle bome is ook aangemeld. Sommige bome het paaie [Woensdag] versper, waaronder Jorrisenstraat en die hoek van Grobler-, Compensatie- en Kerkstraat tussen Thabo Mbeki- en Bodesteinstraat.”

Hoewel die munisipaliteit boomkapspanne ontplooi het, was verskeie woongebiede teen Woensdagoggend nog sonder krag omdat bome op kragdrade geval het.

“Die kragtoevoer sal binnekort herstel wees. Die meeste gebiede se kragtoevoer is sedert gisteraand herstel,” het die munisipaliteit Donderdag gesê.

Inwoners word intussen versoek om uiters versigtig met enige elektriese bedrading en toestelle om te gaan.

Verkeersligte het ook weens die oorstromings op die hoek van onderskeidelik Rissik- en Markstraat en Jorissen- en Paul Krugerstraat omgeval.

Die Suid-Afrikaanse weerdiens voorspel nog reën en donderstorms vir Polokwane Donderdag, asook vir verskeie dele van Limpopo.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.