Kyk: Player draai die horlosie terug

Gary Player. Foto: Christian Petersen/Getty Images/AFP

Gary Player mag dalk 86 jaar oud wees, maar hy is waarskynlik steeds meer behendig met ’n gholfstok as die oorgrote meerderheid van die wêreldbevolking.

Die legendariese Suid-Afrikaner het so na as dêmmit aan ’n vloekwoord gekom om ’n kolhou by die Meesterstoernooi se Syfer Drie-kompetisie te behaal.

Dié gewilde kompetisie is sedert die 1960’s ’n Meestersinstelling, maar gure weer het  die jongste weergawe kortgeknip.

Player het by die vyfde putjie se afslaanbof die bal die hoogte ingestuur. Dit het drie kort hoppies gegee, ’n bietjie gerol en die gaatjie net-net gemis.

Soos wat die oorblufte kommentators tereg opgemerk het: Dit lyk nie of die jare veel van ’n verweringsinvloed op sy gholfvermoë gehad het nie!

Player het die gesogte Meesterstoernooi drie keer (in 1961, 1974 en 1978) in sy roemryke loopbaan gewen en dit het ongetwyfeld ’n sagte plekkie in sy hart.

“Daar is min dinge wat by die toernooi se tradisie, geskiedenis en omgewing kan kers vashou. Dit is een van my gunstelingweke van die jaar!” het hy op die vooraand van die toernooi gesê.

Player (regs) saam met Arnold Palmer. Foto: Facebook.

Nou in ’n Suid-Afrikaanse sportkonteks was daar al ’n paar supersterre wat internasionaal groot gewildheid geniet. Dink onder andere aan AB de Villiers op die krieketveld, Natalie du Toit en Tatjana Schoenmaker in die swembad en dalk Bryan Habana op die rugbyveld. Maar Gary Player is ongetwyfeld die oorspronklike ster.

In ’n loopbaan wat oor sewe dekades strek, het Player onder meer die Bob Jones-toekenning in 1966 ontvang; die hoogste eerbetoon in Amerikaanse gholf. Daarbenewens is hy in 1974 ook in die wêreldgholf-heldesaal opgeneem, terwyl hy in 2012 die eerste internasionale speler geword het om die PGA-toer se toekenning vir lewenslange bydrae te ontvang.

Verlede jaar het oudpres. Donald Trump van die VSA hom met die presidensiële medalje van vryheid vereer.

Op tuisbodem is hy as die Suid-Afrikaanse sportman van die 20ste eeu aangewys, terwyl hy ook die Orde van Ikhamanga (in goud) ontvang het.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

5 Kommentare

jongste oudste gewildste
Santie Gildenhuys

Gentleman par excellence!

SjN

Mooi hou uncle Gary, meester in golf.

hendrie

Yster op alle terreine!!!

Benita

Ek het net die grootste respek vir Gary Player.

Realis Thailand

Een van die mense wie ek al van kleins af bewonder het. Hy was ook al n voorbeeld virmy gewees in baie opsigte
Mag hy nog lank lewe