Kyk: SA se ‘Gatsby-huis’ vir ‘net’ R65 miljoen te koop

Dié huis wat as “The Gatsby” bekendstaan is teen R65 miljoen in Johannesburg te koop. (Foto: Verskaf / Gumtree)

ʼn Luukse agtslaapkamerhuis wat as “The Gatsby” bekendstaan, is nou teen “net” R65 miljoen in die Houghton-gholflandgoed in Johannesburg te koop. Dít is ʼn afslag van 45% op die oorspronklike waarde van die huis, wat R118 miljoen beloop.

Luidens ʼn advertensie op Gumtree was The Gatsby oorspronklik bedoel om as ʼn private hotel vir koninklikes te dien.

Die massiewe herehuis spog onder meer met ʼn verhitte binnenshuise swembad en ʼn oefenswembad buite. Die huis met sy vier vlakke bied ʼn panoramiese uitsig oor die Goudstad.

Dié huis wat as “The Gatsby” bekendstaan is teen R65 miljoen in die Houghton-gholflandgoed in Johannesburg te koop. (Foto: Verskaf / Gumtree)

Die eiendom het elf badkamers asook sy eie private nagklub, spa en gimnasium.

Barrie Swart, eiendomshoof by Gumtree, sê hoewel dié prys dalk vir sommiges buitensporig klink, is dit inderwaarheid ʼn winskopie wat vinnig opgeraap sal word.

“Dit is nie die eerste keer dat luukse eiendom soos hierdie gelys word nie. Daar is tans verskeie multi-miljoenrandse eiendomme beskikbaar.

Die huis het agt slaapkamers en 11 badkamers. (Foto: Verskaf / Gumtree)

Die eiendom het ook sy eie private nagklub, spa en gimnasium. (Foto: Verskaf / Gumtree)

“Covid-19 het ook ʼn uitwerking op die über-ryk huiseienaars gehad. Baie is nie nou in staat om na hul luukse huise reg oor die wêreld te reis nie, terwyl ander oor die wisselvalligheid van die mark bekommerd is.”

Swart is egter nie bekommerd dat huis te lank op die mark sal wees nie.

“The Gatsby is ʼn ware winskoop en teen hierdie prys sal dit beslis vinnig opgeraap word.”

Benewens The Gatsby is daar ook huise van tot R75 miljoen in dieselfde landgoed te koop.

Die uiters luukse eiendomme word nou onder meer op die eiendomswebwerf Private Property bemark. Van die eiendomme het selfs ʼn hysbak wat inwoners of gaste tot by ’n dakwoonstel neem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Marius ·

Dis nou hoë profiel eiendom wat die regering graag sal afvat sodra die onteieningswet deur gefirseer word. Weet nie of dit ‘n winskoop of goeie belegging is nie. :-(

JohanR ·

Wat is die Afrikaanse word vir “garish” – obtrusively bright and showy; lurid.
“garish shirts in all sorts of colours”

Mariana ·

Net superrykes kan so iets bekostig. Ek sal nie weet wat om met so kasarm te maak nie……gelukkig is ek ook nie ryk nie en al was ek sou ek ook nie my geld in so plek sit nie. Nee laat die filmsterre en besigheidsmiljoenêrs maar koop of dalk ministers. Dis net hulle wat sulke geld verdien.

Aai ·

Nee wat klein huisie in die bosveld wat oor die berge kyk baie beter.

Frank John ·

Verkoop dit aan al die politieke ouens, hul het al die geld van die land in hul sakke so hulle het genoeg.

Henk ·

Vergelyk dit nou met Zuma se Nkandla stroois van R245miljoen

madels ·

Wat n pragstuk! As mense dit kan bekostig, hoekom nie? Ek myself sal nie geld op so iets spandeer as ek dit gehad het nie maar gun die rykes hul luukshede, baie ryk mense het ook ongelooflik hard gewerk om te hê wat hul het, ek sluit nou verseker nie die korruptes in nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.