Kyk: SA touspringer spring rekord los

SD Heijns het die bestaande rekord met meer as 1 000 spronge verbeter. (Foto: Verskaf)

Die 21-jarige SD Heijns het Vrydag ʼn nuwe wêreldrekord vir die meeste springtouspronge in agt uur by die Time Square-arena in Menlyn, Pretoria opgestel.

Met 71 185 spronge het hy die huidige rekordhouer, Sella Rosa Rega van die VSA, met 1 154 spronge verbygesteek. Dít kom om byna 9 000 spronge per uur neer.

Die geleentheid is regstreeks uitgesaai en Heijns se spronge is deur die Suid-Afrikaanse laboratorium vir sportwetenskap (SSL) getel. Hy wag tans dat dit deur spanne van Guinness-wêreldrekords geverifieer word.

“Daar is altyd ’n kans dat ʼn mens dit nie gaan regkry nie, en dis belangrik om te weet dat jy altyd weer kan probeer. Maar die oomblik toe ek besef ek het dit verbeter was net ongelooflik,” het hy Vrydag aan Maroela Media gesê.

Dit was boonop die eerste keer dat Heijns vir agt uur lank tougespring het.

“Ná ses ure het ek in onbekende waters inbeweeg, aangesien dít die langste is wat ek al aaneen gespring het. Die verstandelike uitdaging het gekom toe ek al vir vier ure spring, want dan besef mens jy het nog dubbel sover om te gaan.

“Hier by sewe ure het die energie en adrenalien egter weer opgetel. Ek dink ek het meer spronge in die laaste uur as aan die begin gegee,” sê Heijns.

Hoewel hy effens moeilik ná sy agt uur lange sessie gestap het, was daar ʼn breë glimlag op sy gesig.

“Al die werk wat ons ingesit het, het vrugte afgewerp. Die bene en heupe is wel bietjie seer en ek gaan beslis in die bad lê wanneer ek by die huis kom.”

Maroela Media het vroeër berig dat Heijns die afgelope drie maande by SSL by Loftus Versfeld oefen en tot vier dae ʼn week vir een tot twee uur lank touspring.

Sy volgende mikpunt is om die 12- en 24 uur-rekord te breek, wat hy binne die volgende twee maande wil doen. Dan sal hy meer as 100 000 spronge in 12 uur moet spring, en meer as 168 394 spronge in 24 uur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

M ·

Mannetjie mens SD ….Jy is ‘n yster ! Baie geluk. Ek bewonder jou beplanning, oefenplan en deursetting …. Pragtig.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.