Kyk: Selfs vloedwater kan dié juffrou nie keer

Joretha, Willie en Willem. (Foto: Verskaf)

Die onlangse reënweer wat veroorsaak het dat verskeie spruite, riviere en damme landwyd oorstroom het, kon nie ʼn onderwyseres aan die Landbouskool Hendrik Potgieter in die Vrystaat keer om die eerste skooldag van die jaar op haar pos te wees nie.

Met skoolbenodighede en al het Joretha Marais (34) Woensdag saam met haar vier maande oue babaseuntjie, Willem, man Willie (38), en dié se tweelingbroer, Johan, op ʼn trekker geklim om inderhaas by die skool uit te kom.

Joretha het aan Maroela Media vertel dat dit die eerste keer is wat sy met behulp van haar swaer se trekker déúr die rivier skool toe is.

“Ek het oorspronklik die skool laat weet dat ons pad verspoel het en ek nie by die skool kan uitkom nie, maar ek het skuldig gevoel om by die huis te sit en toe het ons ʼn plan beraam om my by die skool te kry.”

Die pad na die Marais-plaashuis buite Reddersburg verander soms in iets wat soos ʼn rivier lyk wanneer dit buitengewoon baie reën. Gevolglik moes Johan, wat naby aan die egpaar woon, ʼn nabygeleë spruit trotseer om by die jong gesin uit te kom.

“Met die Covid-19-pandemie kan ʼn mens dit nie bekostig om selfs net ʼn dag se skool te mis nie,” sê Joretha.

Sy is al 13 jaar lank ʼn onderwyseres en gee ekonomiese en bestuurswetenskappe vir gr. 7’s tot gr. 9’s en wiskundegeletterdheid vir gr. 10’s tot gr. 12’s.

Johan het Vrydag aan Maroela Media vertel dat hy die situasie goed uitgekyk het voordat hy die water aangedurf het.

“Verlede jaar moes ek die trekker vat om my broer te gaan help met water wat in hul huis inloop. Ek het die oggend deur die einste spruit gery, maar teen die aand het die water erg begin loop. Ek het besluit om dit nie te waag nie en eerder by Willie-hulle oor te slaap,” sê hy.

“ʼn Buurman van my se bakkie het ook destyds weggespoel as gevolg van die sterk strome.

“ʼn Mens vat nie kanse nie en speel ook nie met water nie.”

Joretha deel sy gevoel in verband met waterveiligheid en sê sy het volle vertroue in die twee broers gehad.

“Ek vertrou my man en my swaer met my en my kind se lewe en ek het geweet hulle sou ons nie in gevaar stel deur om ons op die trekker te laai indien dit nie veilig was nie.”

Dié toegewyde onderwyseres het gelukkig die skool in een stuk gehaal nadat Willem by sy ouma afgelaai is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Anel ·

Hoe sê hulle. “‘n boer maak ‘n plan”, en “waar daar ‘n wil is, is daar ‘n weg”. Voorbeeld vir duisende in hierdie land.

Busy Body ·

Braaf maar dom. Veral met n 4mde baba. Water kan in oogwink verander. Nie een van hulle het veiliigheidsbaadjies aan nie. Wat is n baba se oorlewingskans elk geval sou dinge skeef geloop het.

Strandloper ·

Halllloooooo n Boer is nie dom nie! Een keer was daar n Boer en n Engelsman….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.