Kyk: Sharks, Siya sing saam met topseunskoor

Foto: YouTube-skermskoot.

In Suid-Afrika hou ons daarvan as twee sangers saam aan ’n treffer werk: Dink aan Ricus Nel en Snotkop of Jay en Lianie May.

Nou het die Drakensberg-seunskoor en die Sharks-rugbyspan ook die collab-ding gedoen toe hulle saam aan hul unieke weergawe van Imagine Dragons se Follow You gewerk het.

Die musiekvideo is vandeesweek bekendgestel en dit is al reeds meer as 35 000 keer op YouTube gekyk.

Die aksie begin waar lede van die koor skelm om die Sharks se kleedkamerdeur loer. Toe hulle sien dat g’n speler in die nabye omgewing is nie, storm hulle in, speel met ’n verdwaalde rugbybal en vergaap hulle aan hul rugbyhelde se truie.

Natuurlik word hulle betrap en hardloop na die speelveld waar hul sangtalent (en die spelers se dansvaardighede) behoorlik uitgestal word.

Teen die einde van die video stap die koorlede weer deur die tonneltjie terwyl die spelers hulle kliphard toejuig.

Later besoek Aphelele Fassi (die Sharks se Springbok-heelagter) die kleedkamer waar sy rugbytrui met een van die seunskoor se hemde omgeruil is.

Ja, die spelers was aanvanklik ’n bietjie skepties oor die danschoreografie, maar hul onsekerheid het vinnig in glimlagte verander; die seuns se entoesiasme was immers aansteeklik.

“Om te dans is een van die grootste uitdagings; nou word daar boonop van my verwag om te beweeg terwyl ek dit doen,” het die Sharks se Marius Louw geskerts.

Hy is egter vinnig moed ingepraat.

“Die geheim is eintlik om net jou hart te volg en met die stroom saam te gaan,” was Hanko Geldenhuys se wyse raad.

Selfs die Springbok-kaptein, Siya Kolisi, was effens op sy senuwees.

“Dít is beslis buite my gemaksone, maar ek sien baie daarna uit. Ek is opgewonde om in die koor te wees,” het SA Rugby se speler van die jaar gesê.

Tussendeur al die lag, Bongi Mbonambi se solo (kyk gerus die Sharks se agter die skerms-video) en pret, het Lukhanyo Am waarskynlik dinge die beste opgesom: “Flip, maar die seuns kán sing”.

Die spelers en koorlede kan voorwaar trots wees op die video.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Natasha ·

LMK! Dis nou oulik, maar ek dink van die spelers moet maar by rugby hou… ☺ Dis goed vir die siel om soms net sulke oomblike te hê!

Ronel ·

Nice om te sien die Drakensberg Koor is weer in die kol lig

JL ·

Oulik. In ons deurmekaar wêreld is hierdie regtig opkikkerend

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.