Kyk: Skaap met kunspoot, g’n wolhaarstorie

Dolly word beskou as die eerste skaap in Suid-Afrika met ’n kunspoot (Foto: Verskaf)

Dolly, ’n skaap van Melkbosstrand in Kaapstad, wie se voorpoot meer as ’n jaar gelede geamputeer moes word, loop nou weer al te lekker met haar nuwe kunspoot rond.

Dolly word beskou as die eerste skaap in Suid-Afrika met ’n kunspoot.

Gayl Basson, medestigter van die Fallen Angels Pet Rescue-organisasie, het Dolly verlede jaar op ’n plaas in Sutherland ontdek en dié twee het baie vinnig ’n hegte band gevorm. Basson het Dolly saam met haar na die Fallen Angels Pet Rescue se plaas op Melkbosstrand geneem.

Fallen Angels Pet Rescue beywer hulle vir die redding en rehabilitering van diere.

Dolly was skaars twee dae oud toe haar regterpoot in ’n strik in die veld vasgevang geraak het. Die veearts kon nie haar poot red nie en dit moes geamputeer word.

“Die boer het Dolly daarna eenkant van die res van die skape gehou omdat sy nie so sterk was nie. Die boer het vir Dolly ook nog met ’n bottel gevoer,” vertel Basson aan Maroela Media.

Basson het vir die vakansie op die plaas gekuier en die boer het gevra of Basson vir Dolly saam met haar na die plaas op Melkbosstrand kan vat.

“Sy het in ’n baie kort tydjie soos ’n kind vir my geword.”

Volgens Basson het Dolly gesukkel om met drie pote klaar te kom.

“Haar kop, skouers en ruggraat het skeef getrek soos sy op die drie pote probeer loop het.”

Basson sê hoewel honde meestal goed met drie pote oor die weg kom, sukkel skape soos Dolly omdat meer gewig op hul pote rus.

“My hart het gebreek om Dolly só te sien swaarkry en ek het geweet ek moet iets doen om haar te help.”

Die proses om vir Dolly ’n kunspoot te maak het omtrent agt weke geduur (Foto: Verskaf)

Basson het ’n inskrywing op Fallen Angels Pet Rescue se Facebookblad geplaas, waarin sy die publiek om hulp vra om Dolly weer te laat loop. Dié blad het meer as 55 000 volgelinge.

Dit is toe dat die prostetis, Eugene Rossouw, van sy praktyk in Sunset Beach in Kaapstad vir Basson kontak en aanbied om gratis ’n kunspoot  vir Dolly te maak.

Rossouw maak gewoonlik kunsbene vir mense en hierdie is die eerste keer wat hy ’n kunspoot vir ’n dier gemaak het.

Volgens Basson het die proses om vir Dolly ’n kunspoot te maak omtrent agt weke geduur. ’n Gipsmodel is eers van Dolly se poot geneem. Daarna is ’n proefpoot gemaak waarmee Dolly vir ’n paar dae moes rondloop.

Dolly het Vrydag die finale weergawe van die poot gepas en loop sedertdien daarmee rond.

“Sy loop nog ʼn bietjie wankelrig met die kunspoot omdat sy nog daaraan gewoond moet raak. Maar dit gaan nou al beter as die eerste dag.”

Rossouw vertel hy het besluit om Dolly te help uit deernis vir die dier.

“Ek het dit gedoen om Dolly se lewenstandaard met die prostese te verbeter en ook omdat ek ʼn passie vir my werk het,” vertel Rossouw.

“Ek het dit ook as ’n lekker uitdaging beskou om te sien of so ʼn prostese suksesvol gemaak kan word, aangesien dit iets is wat nie gereeld gedoen word nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Swerwer ·

Te Dierbaar! Dankie aan elkeen se bydrae of vir Dolly te help en weer lewenskwaliteit te gee, jul is almal Engele.

Ansie ·

Eugene, jy is ‘n engel. Dis ‘n netjiese poot daardie. Baie dankie vir jou deernis. Geseënd is jy.

Elinette ·

Dis nou seker maar ‘n dom vraag, maar as Dolly se poot afgesit is, waarop het die prostetis die kunspoot gebaseer? Op die regtervoet?

Karina ·

Ek neem die boer nie kwalik dat hy lief geword het vir Dolly nie, toe ek in laerskool was het ek ‘n hanslam gehad – as ‘n skaap ‘n tweeling kry “gooi” sy die een weg. Dit was ‘n wonderlike tyd, later het skapie te groot geword en is toe by die trop gesit.

modiglianigirl ·

‘n pragtige verhaal as silwer randjie rondom die donker ‘algemene nuus’ wolkie. Baie dankie vir die liefde en omgee.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.