Foto’s: Swaar reën, hael tref Gauteng, Noordwes

Die Golden Walk-winkelsentrum in Germiston onder water (Foto: Gauteng Weather, Twitter)

Water het Donderdagaand soos ’n sterk rivierstroom deur die Golden Walk-winkelsentrum in Germiston, Gauteng, gestroom. In video’s wat op sosiale media gedeel is, staan die water enkelhoogte en hier en daar kan gesien word hoe winkelitems op die water dryf.

Donderbuie, swaar reën en hael het laatmiddag in groot dele van Gauteng, Noordwes en die Vrystaat uitgesak en tot oorstromings gelei.

Paaie in die suidelike dele van Gauteng – en veral Alberton – was heeltemal oorstroom. Op sommige plekke was motors en huise gedeeltelik onder water.

“Ek het Alberton nog nooit so verspoel gesien nie. Die water is vreesaanjaend,” het een inwoner gesê.

Motors staan onder water in Alberton (Foto: Gauteng Weather, Twitter)

Oorstromings in Alberton (Foto: Gauteng Weather, Twitter)

Die Alberton-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) het inwoners Donderdagaand gewaarsku om erg oorstroomde gebiede te vermy, waaronder Ringweg-Wes, Raceview Motors Phantom-pad, Raceview op pad na die Lemon Tree-winkelsentrum, Voortrekker-afrit, die Rugbyklubsirkel Verwoerdpark, Toon van den Heever in Randhart, die laagliggende dele van Elisabeth Eybers- en Hartlaan en Randhart- en Louwstraat in South Crest.

Foto’s wat op sosiale media gedeel is, wys hoe hael in Klerksdorp en Stilfontein in Noordwes so dik soos sneeu gelê het.

Die hael lê soos sneeu in Klerksdorp (Foto: Elzette Oberholzer, ReënvalSA, Twitter)

Die hael lê soos sneeu in Klerksdorp (Foto: Madedlein Smit, ReënvalSA, Twitter)

Die Stad Ekurhuleni het ’n paar wenke gedeel oor wat om tydens oorstromings te doen:

  • Stel vooraf ʼn ontruimingsplan op.
  • Bly kalm, dit is belangrik om jou naasbestaandes veilig te hou.
  • Versamel noodvoorrade soos kos en water wat ten minste drie dae kan hou.
  • Hou die nuus gereeld dop vir opdaterings.
  • Stoor waardevolle items, belangrike dokumente en klere op veilige plekke wat nie deur water verspoel kan word nie.
  • Hou belangrike inligting soos noodnommers by jou indien jy dit nodig kry.
  • Indien ontruiming nodig is, skakel alle toestelle by die kragskakelaar af om die risiko van elektriese skokke te beperk of ʼn brand te verhoed.
  • Bly weg van kragdrade wat in die water beland het.
  • Wees waaksaam in die nag. Dit is moeiliker om potensieel dodelike padgevare raak te sien.
  • Moenie in jou motor langs riviere kampeer of parkeer nie, veral tydens swaar reën of donderstorms.
  • Moet nie deur oorstroomde gebiede en brûe ry of loop nie.
  • Vermy kontak met enige vloedwater. Die water kan besmet wees met rou riool, olie, gebreekte bottels of ander gevaarlike items. Dit kan ook gelaai wees met elektrisiteit van kraglyne wat geval het of selfgekoppelde grondkraglyne in gebiede soos informele nedersettings.
  • Moenie vloedwater drink of dit gebruik om skottelgoed mee te was, tande te borsel of om kos voor te berei nie.
  • Gooi alle kos weg wat moontlik deur vloedwater besmet is.

Oorstromings in Johannesburg se middestad (Foto: Gauteng Weather, Twitter)

Hael het Donderdag in Klerksdorp uitgesak (Foto: Madelein Smit, ReënvalSA, Twitter)

Dik hael in Klerksdorp (Foto: Matia van der Westhuizen, ReënvalSA, Twitter)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Racheltjie Debeer ·

As die stormwater stelsel dalk skoon en instand gehou word, sal dit die skade aansienlik minder maak.
Maar die meeste stormwater dreins is so verstop met vullis dat die water nêrens heen kan gaan nie.

Belinda ·

Ekt ook n paar wenke – vir die munisipaliteit…
Hou die dreineering sisteme skoon!

Pieter ·

Ek stem 100% saam met Racheltjie en Belinda. Daar was nooit ‘n probleem van oorstromings toe die strate nog gevee en skoongehou is nie, want daar was nie rommel wat die afvoerstelsels geblokkeer het nie! Ons het nog nie eers werklike swaar reen gehad nie…….

Skappie ·

As mense net leer om alle vulis in asblike te gooi, sal ons nie die oorstromming kry nie, want daar sal niks wees wat die dreinerings verstop nie. Maar nou ja, is mos net lekker om my papiere en alles net neer te smyt.

Tanniepetoors ·

Dit sal baie help as die “entitled youth” besef dat al die “chips” en “choclate” papiere wat hulle so ongeeergd neergooi in die strate, die tipe oorstromings veroorsaak. Selfs in ons “middelklas” buurt is daar bierbottels, kondome en onderklere in die strate en op die sypaadjies. Ek sidder as ek kyk na die onderklere wat ek sien as ek gaan stap.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.