Kyk: Sweminstrukteur red vrou toe see haar meesleur

‘n Skermskoot uit die video.

ʼn Weldoener het Woensdag flink gedink en ʼn vrou gered wat aan die kus van KwaZulu-Natal deur ʼn seestroom meegesleur is en byna verdrink het.

Craig Lambinon, woordvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI), sê Daniel van Huyssteen het om 13:00 gesien hoe ʼn vrou in die see by Salmonbaai sukkel om kop bo water te hou.

Van Huyssteen, ʼn sweminstrukteur by ʼn plaaslike skool, het blitsig by die strand afgehardloop en een van die NSRI se kenmerkende pienk reddingsboeie gegryp.

“Dit het gelyk asof die vrou in die seestroom vasgevang was; hoewel sy strand toe probeer swem het, kon sy nie uit die stroom kom nie,” sê Lambinon.

Van Huyssteen het met behulp van die reddingsboei vinnig tot by die vrou geswem en haar na veiligheid gehelp. Sy het ná haar redding geen mediese hulp benodig nie.

Beeldmateriaal van die voorval wys hoe Van Huyssteen vreesloos die see aandurf en saam met die vrou uitswem.

“Daniel se vinnige optrede het ʼn moontlike tragedie voorkom en is weereens ʼn bewys hoe belangrik waterveiligheid is,” sê Lambinon.

Die strand is bekend daarvoor dat seestrome swemmers daar maklik meesleur.

Die NSRI het ʼn beroep op strandgangers gedoen om by strande te swem waar lewensredders aan diens is en indien nodig, gebruik te maak van die NSRI se pienk reddingsboeie.

“Die pienk reddingsboei het opnuut bewys dat dit ʼn doeltreffende hulpmiddel in reddingspogings is,” sê Lambinon.

Altesaam 146 reddingspogings is al met ʼn pienk NSRI-reddingsboei gedoen en tot dusver was elk van dié pogings suksesvol.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Lillian ·

Wow!!! Hys ‘n sterk swemmer. Welgedaan! Ek Jan net dink hoe moeg mens word in die water as jy so aanhou probeer en telkens meegesleur word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.