Video: Swemster vra steun vir gidshonde

(Foto: Verskaf)

Die siggestremde Paralimpiese swemmer, Cornelle Leach, wat in 2008 op negejarige ouderdom met Stargardt se makulêre degenerasie gediagnoseer is, is een van die gelukkige eienaars van ʼn gidshond van die Suid-Afrikaanse Gidshondvereniging.

Leach is steeds druk besig en vol ywer sedert Maroela Media in 2020 met haar gesels het. Sy sal in Mei vanjaar Suid-Afrika vir die tweede keer by die Wêreld-Para-swemkampioenskaptoernooi verteenwoordig, wat dié jaar in Portugal plaasvind.

“Ek het tot dusver vanjaar vir die 100 m-bors-, 100 m-vryslag- en 50 m-vryslagitem gekwalifiseer.”

Leach vertel dat haar pragtige swart gidshond, Vogue, een van die hoofredes vir haar uitstekende vordering in die swembad is.

“Sy het my in staat gestel om elke dag gimnasium toe te stap sodat ek kon oefen. Dit is ook te danke aan haar dat ek vir die tweede keer kon kwalifiseer om aan die Wêreld-Para-swemkampioenskaptoernooi deel te neem.

“Vogue het al my swembyeenkomste en oefeninge bygewoon sedert ek haar gekry het. Sy is verskriklik oulik wanneer ek oefen. Wanneer ek op die duikblok staan, wag sy langs my en sodra my afrigter die sein gee dat ek moet swem, hardloop Vogue tot aan die einde van die swembad om vir my ʼn liefdevolle lekkie te gee wanneer ek uit die water opkom.”

Leach vertel dat sy graag Suid-Afrikaners wil aanmoedig om geld aan die Suid-Afrikaanse Gidshondvereniging te skenk.

“Die pandemie het soos in die geval van die meeste ander organisasies ʼn slegte invloed op die vereniging gehad. Geldinsamelingsprojekte en ander byeenkomste was beperk en die vereniging het miljoene rande verloor.

“Die organisasie het agterstallige werk weens ʼn tekort aan geld en die waglys vir gidshonde word elke dag langer.”

Die Suid-Afrikaanse Gidshondvereniging is in 1953 in Johannesburg gestig en het sedertdien duisende behoeftiges se droom om ʼn dienshond te hê, verwesenlik. Die vereniging het ook intussen uitgebrei en het nou ook takke in Kaapstad en KwaZulu-Natal.

“ʼn Dienshond kan lewensverrykend wees vir mense met spesiale behoeftes soos blinde of fisiek gestremde mense en kinders op die laer outistiese spektrum. Ons dienshonde verskaf mobiliteit, onafhanklikheid, selfvertroue en onvoorwaardelike liefde aan hulle eienaars,” sê Nadia Sands, hoof van bemarking by die Suid-Afrikaanse Gidshondvereniging.

(Foto: Verskaf)

“Binne slegs die eerste week van die inperking in 2020 het ons vereniging meer as R300 000 verloor weens funksies wat gekanselleer moes word. Geldskenkings het sedertdien ook aansienlik verminder weens swak plaaslike ekonomiese toestande – mense het nie meer geld nie.”

Die opleiding van ʼn gidshond soos Vogue is peperduur, en om een te besit is nie vir almal moontlik nie. Dit kos die Suid-Afrikaanse Gidshondvereniging ongeveer R150 000 om ʼn hond op te lei, voordat die doelgeoriënteerde dienshond vir R5 aan ʼn behoeftige oorhandig word. Dit sluit ʼn maand se kosvoorraad, leiband, speelding, ontwurmingmedikasie en insekweerder, asook die administrasiefooi in.

“Ons kliënte betaal slegs R5 vir ʼn hond omdat ons glo dat almal ʼn reg op ʼn onafhanklike lewe het. Die enigste voorvereiste is dat die behoeftige na die hond moet kan omsien,” verduidelik Sands.

Die organisasie ontvang geen steun van die regering nie en maak 100% staat op skenkings vanaf lede van die gemeenskap. Dit is juis daarom dat Leach besluit het om Suid-Afrikaners te motiveer om die vereniging te ondersteun waar hulle kan.

“Dit is regtig ʼn liefdadigheidsorganisasie wat aanhoudende steun bied, hulle bel my gereeld om te hoor of dit nog goed gaan, en of hulle vir my en Vogue nuwe roetes kan leer.

“Die Gidshondvereniging het my lewe verander met Vogue, ek wil hê die gemeenskap en ander behoeftiges moet bewus wees van die ongelooflike steun wat dié organisasie aan ons bied,” sê Leach.

Die Suid-Afrikaanse Gidshondvereniging verskaf gidshonde, dienshonde, outisme-ondersteuningshonde, oriëntasie en mobiliteit. Sy missie is om die lewe van visueel en fisiek gestremde mense en kinders met outisme se lewensgehalte te verbeter.

“Ons het net kapasiteit om ongeveer 100 honde per jaar te teel, waarvan net 40 tot 60 kwalifiseer om as ʼn dienshond opgelei te word. Ons het ʼn waglys van ongeveer twee jaar.

“Met meer geld sal ons die geriewe kan uitbrei en meer honde oplei om sodoende meer behoeftiges te help. Daar is ongeveer 1,5 miljoen Suid-Afrikaners wat siggestremd is, en ons is die enigste geakkrediteerde organisasie wat hierdie honde kan oplei,” sê Sands.

(Foto: Verskaf)

Leach vertel dat sy die Gidshondvereniging en dié mense daar as familie beskou. “Hulle bly in kontak, hulle help regtig altyd waar hulle kan.

“Voordat ek vir Vogue gekry het, is daar telkemale aan my gevra hoekom ek nog nie ʼn gidshond het nie, en ek kon nooit aan die regte antwoord dink nie. Eintlik het ek een broodnodig gehad, en ek weet dit nou,” sê Leach.

Volgens Leach is dit dikwels moeilik om te aanvaar dat jy gestremd is, maar ʼn gidshond kan help met daardie aanvaarding en die proses makliker maak.

“Ek dink daar is baie siggestremde mense en mense met ander gestremdhede wat aanvanklik teen die idee van ʼn gidshond gekant is, bloot omdat hulle dan aan hulself en die wêreld moet erken dat hulle ʼn gestremdheid het. Ek was self een van daardie mense, maar vandat ek vir Vogue gekry het, het my lewe onherroeplik verander. Sy help my om al my doelwitte te bereik op sosiale, sport- en akademiese vlak; sy is altyd daar vir my.”

Leach is tans besig met haar meestersgraad in toerismebestuur waarin sy die toeganklikheid vir gestremde mense in die toerismebedryf bestudeer.

“Dit is verstommend hoe min die toerismebedryf mense met ʼn gestremdheid huisves en in ag neem, hulle het bloot net nie die regte geriewe nie. Van die hotelle oor die hele wêreld het nie eens ʼn klein grasperk vir gidshonde om hulle ‘besigheid te doen’ nie,” vertel Leach.

Sy is ook maar net te bewus van die struikelblokke waarmee gestremde mense daagliks te doen kry.

“Ek is al by talle restaurante en winkelsentrums weggewys omdat ek ʼn gidshond het, en moes later leer dat ek restaurante en winkelsentrums vooraf moet inlig en ʼn bespreking moet maak om toegelaat te word.”

(Foto: Verskaf)

Hoe kan jy help?

Lesers kan op verskeie maniere die Suid-Afrikaanse Gidshondvereniging ondersteun.

“Daar is soveel maniere waarop mense kan help, en dit hoef nie eens geld te kos nie. Ons het altyd ondersteuning nodig in alle vorme, vanaf skenkings tot vrywilligers wat ons kan help om geldinsamelings te hou of selfs om babahondjies vir die vereniging groot te maak.” Besoek die Gidshondvereniging se webwerf hier vir meer inligting.

Die Suid-Afrikaanse Gidshondvereniging se tydskrif bestaan uit talle suksesverhale van kliënte en hoe hulle dienste bygedra het tot hierdie sukses.

Die Suid-Afrikaanse Gidshondvereniging kan enige tyd genader word vir navrae en skenkings.

  • Vir navrae uit die Johannesburg-omgewing stuur ʼn e-pos aan Nadia na [email protected] of skakel 011 705 3512.
  • Vir navrae in Kaapstad se omgewing stuur ʼn e-pos aan Jackie na [email protected] of skakel 021 674 7395.
  • Vir navrae uit KwaZulu-Natal stuur ʼn e-pos aan Ane na [email protected] of skakel 082 875 6244.

“Ons grootste geldinsamelingsprojek tans is die Telethon en ons doel is om R1 miljoen in te samel voor 31 Maart 2022. Besoek die Gidshondvereniging se webwerf vir meer inligting hieroor,” sê Sands.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.