Kyk: Unieke opleidingsentrum moet stropers help vasvat

‘n Spesiale flitslig word ingespan om voetspore op die misdaadtoneel duidelik uit te wys – ook deel van forensiese bewyse op so ‘n toneel. (Foto: Danie Keet)

Dit lyk kompleet soos ʼn amptelike misdaadtoneel – afgesper met geel polisielint en ʼn onthoringde renoster wat lyk soos die ware Jacob, kompleet met bloed en koeëlwonde. Mense in persoonlike beskermende klere, gehoed en gehandskoen, met flitse, vergrootglase en kameras, loop op die grusame toneel rond op soek na leidrade.

In hierdie geval is die toneel van ʼn renosterstroping weliswaar kunsmatig, maar die belangrikheid waarmee die ondersoekers die situasie benader, is professioneel en ernstig. Die “ondersoekers” is almal studente van die Wildlife Forensic Academy wat in die Buffelsfontein-natuurreservaat aan die Weskus gesetel is – die enigste van sy soort in Afrika en een wat groot internasionale belangstelling lok.

“Ons wil forensiese ondersoekers oplei om die groot probleem met wildstropery in Suid-Afrika, maar ook wêreldwyd, te pak. Ons wil hulle bemagtig om misdaadtonele van wildstropery op die regte manier te kan beskerm, ondersoek en dokumenteer, wat tot suksesvolle vervolgings in die howe kan lei.”

So sê Petro van der Westhuizen, hooffasiliteerder van die kursus by die Akademie, oor die werk wat hulle sedert 2022 hier doen.

Met byna 18 jaar se forensies ondersoekwerk in die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) agter die blad, is sy een van die mees ervare forensiese ondersoekers in die land.

Studente dokumenteer die opsporing van ‘n gestroopte renosterhoring tydens een van die simulasie-oefeninge. (Danie Keet)

Sy is egter slegs een rat in ʼn geoliede masjien, onder die leierskap van Andro Vos, ʼn Nederlander en uitvoerende hoof van die Wildlife Forensic Academy, wat die bekamping van omgewingsmisdaad op ʼn heel ander vlak plaas.

“Forensiese ondersoeke is die basis van enige misdaadondersoek,” verduidelik Vos. Hy self het etlike jare in Nederland ernstige geweldsmisdaad, georganiseerde misdaad en terrorisme ondersoek, ʼn klipgooi weg van die Rotterdamse hawe, die wêreld se grootste deurgang vir gesmokkelde natuurprodukte.

Tydens lesings oor forensiese ondersoeke in sy veld by die Universiteit van Stellenbosch se regsfakulteit, het hy in aanraking gekom met die omvang van die probleem van wildstropery. Annelise Steyn van die SA Wildlife College het hom meer daaroor vertel.

“Tot in daardie stadium het ek nog nie veel gehoor van wildlewemisdaad nie en ek was onmiddellik vasgevang. Ek het die Kruger‑ Nasionale Wildtuin kort daarna besoek en het die bedenklike voorreg gehad om tydens my verblyf die drama rondom ʼn renosterstropery eerstehands te kon meemaak. Die dag toe ek op die toneel kom en sien hoe min aandag gegee word aan die bewaring van bewysstukke en beskikbare forensiese getuienis, het ek besluit om hierdie pad te begin stap. Dit is ongelukkig so dat die meeste mense in die teenstropingseenhede militêre agtergrond het en fokus op die opsporing van die misdadigers en nie soseer op die prosesse wat in plek moet wees om suksesvolle vervolgings te verseker nie,” vertel hy.

Studente by een van die gesimuleerde stropingstonele. In die agtergrond is die huis en bakkie wat deel van die stropingsvoorval is. (Foto: Danie Keet)

Van der Westhuizen, wat die meeste van die kursusmateriaal saamgestel het, verduidelik dat hul opleiding prosesgedrewe is, maar terselfdertyd praktiese opleiding bied van presies hoe om ʼn misdaadtoneel te hanteer.

“Ons leer dit ook vir ons studente hier in die Akademie – hulle moet eers die toneel opsom, dan kyk watter ooglopende bewyse daar is, dit deeglik dokumenteer, dan insamel en bewaar en volledige rekordhouding gebruik om te verseker dat dit in die hof geloofwaardig aangebied kan word.

“Ons gebruik die gewilde Cluedo-moordoplossingspeletjie om die groepe opdragte en leidrade te gee wat hulle dan op die nagebootste misdaadtonele moet ondersoek.”

Die Akademie beskik oor ʼn reuse-skuur wat ongeveer 800 m² beslaan, waarin die opleiding en simulasies plaasvind. Hier is verskillende tonele van wildsmisdaad – ʼn renosterstroping, onwettige leeu- en kameelperdjag, perlemoensmokkelaars se wegkruipplek en rubberboot, ʼn “verdagte” se huis met verskillende vertrekke, ʼn voertuig en ʼn skeepsvraghouer wat ook deel van die ondersoek vorm.

“Die kursusgangers word vooraf toegerus met alle nodige hulpmiddels waarmee forensiese bewyse ingesamel word, soos plastiekhouers en buisies vir bewysstukke, deppers waarmee ‘bloedmonsters’ geneem kan word en spesiale houers vir ander bewysstukke soos sigaretstompies en koeëldoppies. Studente kry selfs chemikalieë waarmee bloedmonsters getoets kan word om te bepaal of dit werklik bloed is. Hulle moet elke stap deeglik dokumenteer, ook met foto’s en videogrepe, terwyl hulle deurgaans gemoniteer word.”

‘n Student versamel forensiese bewyse – in hierdie geval ‘n sigaretstompie – wat op die misdaadtoneel gelos is. (Foto: Danie Keet)

Phil Snijman, nog ’n belangrike rat in die masjien, was aanklaer in die omgewingshof wat omgewingsmisdade aangehoor het. Hy werk sedertdien as konsultant, dosent en fasiliteerder vir programme wat studente in die vervolging van omgewingsmisdade oplei. Hy neem kursusgangers deur die hele hofproses, waartydens hulle die saak wat hulle ondersoek het met behulp van die forensiese bewyse wat ingesamel is, en volgens die regte prosedures, moet aanbied.

Arno van der Merwe, ʼn militêre veteraan van die spesiale magte en spoorsnykundige, leer studente hoe om in die veld spoor te sny en sekere gebeure te lees – soos watter implikasie spore van die teenwoordigheid van naginsekte, teenoor daginsekte, op die toneel het. Die opspoor van strikke word ook behandel.

Verskeie buitelandse kenners is deel van die Akademie en prof. Claire Gwinnett, ʼn professor in forensiese en omgewingswetenskap aan die Universiteit van Staffordshire in Engeland, is ʼn spesialis op die gebied van nasporingsbewyse, forensiese databasisse, standaarde van forensiese wetenskap en mikroplastiekbesoedeling. Sy is ook raadgewer vir 22 lande oor mikroplastiekbesoedeling. Sy is tans in Suid Afrika om saam met Van der Westhuizen en Snijman ʼn opleidingskursus vir Europese studente aan te bied.

“Met slegs sowat 5% van alle stropers wat uiteindelik voor die hof beland, het ons ʼn reuse-verantwoordelikheid om deur ons opleiding in die forensiese prosesse te verseker dat dit verander,” sê Vos.

“Die waarde van internasionale wildsmisdade word op tussen $1 triljoen en $2 triljoen geskat – dit is meer as die hele Nederlandse bruto nasionale binnelandse produk. En dit is ʼn globale probleem, nie net ʼn Afrika-probleem nie. Ons het egter die geleentheid aangegryp om hier in die Wes-Kaap met opleiding te begin en gaan hopelik binnekort die Akademie ook op ander plekke in die land en in Afrika vestig. Ons het ʼn gesonde besigheidsmodel en die beste kundigheid in die bewaringswêreld om natuurbewaarders op te lei om suksesvolle vervolgings te kan doen.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Andre ·

…of die A en C kan net die grensdraad met Mosambiek regmaak en patrolleer!
Soveel makliker!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.