kykNET en Binnelanders groet twee grotes

Binnelanders

Binnelanders

kykNET en Binnelanders het Kersdag afskeid geneem van een van hul vervaardigers en ʼn storielynskrywer.

kykNET het in ʼn verklaring bevestig hulle neem met leedwese kennis van die afsterwe van een van die Binnelanders-vervaardigers Friedrich Stark, asook storielyn-skrywer Elsabé Roux.

Die oorsaak van hul afsterwe word nie bekend gemaak nie. Ernst Swart, woordvoerder vir Binnelanders, is tans oorsee en is nie beskikbaar vir kommentaar nie. Maroela Media wag vir terugvoer in die verband.

Stark was ’n prominente figuur in die televisiebedryf. Hy is bekend as regisseur en vervaardiger van veral Generations en Binnelanders. As jong akteur was hy te sien in onder meer Die Voortrekkers (1973), Môre, Môre (1973), Dingetjie is Dynamite (1975), Kiepie en Kandas (1981) en in die gewilde televisiereeks Net ’n bietjie Liefde (1977).

“Friedrich was sjarmant, gaaf, snaaks, vrygewig en baie slim,” sê Mitzi Booysen, hoofskrywer en mede-vervaardiger van Binnelanders. “Wanneer dit nodig was, het hy my vir myself laat lag en ’n mens was altyd ten volle bewus van sy waardering en ondersteuning. Ek is seker dat almal wat deel is van die uitgebreide Stark-familie ook in skok is oor die nuus van sy ontydige afsterwe. Ek weet dat ek hom baie gaan mis, nie net as kollega nie, maar ook as vriend. RIP, Friedrich.”

Volgens Karen Meiring, M-Net: direkteur kykNET-kanale, het sy “ongelooflike respek vir Friedrich as mens, vervaardiger en baanbreker in die televisiebedryf” gehad. “Hy was altyd hartlik en baie vrygewig met sy kennis en ervaring. Dit was ’n voorreg om hom as deel van die kykNET-kanale te kon beskou,” het sy gesê.

Elsabé Roux was as skrywer verantwoordelik vir baie van die intriges en stories wat Suid-Afrikaanse sepie-liefhebbers daagliks vasgenael hou.

“Elsabé was ’n talentvolle draaiboekskrywer wat haar loopbaan by Egoli: Plek van Goud begin het,” het Frans Kalp, vriend en mede-skrywer, gesê. “Deur die jare was sy by talle sepies betrokke, onder meer Villa Rosa, Binnelanders, Generations en Isidingo. Elsabé sal altyd in ons harte wees en ons sal vir haar lief bly.”

kykNET het gesê hulle eer hul nagedagtenis en hul harte gaan uit na hul familie en vriende.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Meraai ·

Dis vreeslik hartseer.
Binneland is my gunsteling sepie. Sterkte aan die naasbestaandes.

Werklik hartseer ·

Dit is werklik hartseer, hul het beslis die sepie so realisties moontlik gehou, mens kon lekker ontspan, lekker lag en lekker huil, die storielyne was goed hanteer, nie met onrealistiese neverending lyne nie, werklike manier van gebeur in ons alledaagse lewe. Rus in vrede 2 wonderlike mense!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.