kykNET kondig nuwe sepie aan

getroud-met-rugbykykNET het Donderdag aangekondig watter sepie in April volgende jaar in Villa Rosa se plek vertoon sal word.

“Die uiters gewilde dramareeks Getroud met rugby sal van 4 April in Villa Rosa se tydgleuf, elke weeksaand om 18:30, op kykNET, DStv-kanaal 144, te sien wees.”

Volgens kykNET was daar ’n deeglike tenderproses waartydens al die voorstelle noukeurig oorweeg is. “Kykers se groot entoesiasme vir dié reeks het egter die deurslag gegee en uiteindelik was dit ’n eenparige besluit om hierdie gewilde drama in ’n sepie te omskep met halfuur lange episodes wat elke weeksaand om 18:30 uitgesaai sal word.”

Karen Meiring, M-Net: Direkteur van Afrikaanse kanale, het gesê sy is baie opgewonde oor dié nuwe era van Getroud met rugby: “Rugby lê die meeste Suid Afrikaners so na aan die hart en daarom glo ons die leefwêreld rondom dié sport sal altyd relevante en boeiende stories kan vertel!”

Volgens kykNET is Getroud met rugby ’n suksesverhaal wat geen bekendstelling nodig het nie. “Dié dramareeks is een van die gewildste reekse wat nóg deur kykNET aangebied is. Gevolglik het kykNET besluit om Deon Opperman, skepper en vervaardiger van dié trefferreeks, opdrag te gee om Getroud met rugby in ʼn nuwe kykNET-sepie te omskep wat al die kragtigste elemente van die Getroud met rugby-dramareeks behou, maar ook voldoen aan die vereistes van ʼn goeie sepie – vermaak wat die hele gesin saam kan kyk.”

Volgens Opperman sal die gewilde karakters van die dramareeks steeds hulle plekke vol staan in die geselskap van ʼn hele opwindende span nuwe rolspelers, onder meer ʼn hele gesin met pa, ma en vier kinders van ouderdom 16 tot 24, asook drie nuwe getroude paartjies.

“Ná vier suksesvolle seisoene van Getroud met rugby as dramareeks was dit vir my, as skrywer en vervaardiger, fantastiese nuus toe kykNET laat weet hulle besluit het om die reeks as sepie aan te bied. Nou kan die karakters – geliefde ou gesigte asook nuwes – elke dag bietjie dieper in die kykers se harte inkruip,” het Opperman gesê.

“Kykers moet hulle eie lewens in dié van die karakters van ʼn sepie kan herken,” het Opperman gesê. “Daarom was dit vir my belangrik dat ons baie groter klem lê op gesinslewe; op die rol van ouers in die gesin; op die drome, aspirasies en frustrasies van die vroue wat met die spelers getroud is of hulle ma is; en natuurlik al die noodsaaklike elemente van ʼn sepie: liefdesverhoudings, intriges, ambisie, lewensdrome, teleurstelling en sukses. In ʼn neutedop – die klem val baie meer op die ‘getroud’-aspek van Getroud met rugby, as op rugby. Daar sal ook beslis geen handeling of dialoog wees wat ʼn gesin aanstoot kan gee nie. Dit gaan oor lekkerkyk en vermaak. ”

Die medevervaardiger en uitvoerende hoof van Opperman se produksiemaatskappy, Soné Combrink, se werk is vir haar uitgeknip. “Die kantoor is soos ʼn treinstasie. Met oudisies wat gehou word om aktrises en akteurs vir al die nuwe rolle te vind, stelle wat ontwerp en gebou word, kostuumontwerp vir elke karakter, en die aanstel van tegniese personeel en regisseurs. Die skryfspan is reeds onder Deon se leiding hard aan die skryf en ontwikkel van storielyne.”

Getroud met rugby is van 4 April 2016 elke weeksaand om 18:30 op kykNET, DStv-kanaal 144, te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Piet Pompies ·

Ons sien uit na die sepie, “Getroud met rugby”, die verskillende karakters, ryk mense, arm mense, gooi die twee saam en daar is aksie. Dit is modern, mens kan daarmee aanklank vind.

pop ·

Ek is dankbaar Villa rosa maak klaar, my man volg dit slaafs maar dit tokkel al in die rondte. irriterend verby. En ek sal nie na getroud met rugby kyk nie. Dit verveel my eindeloos. Is n geh–r en rumoer, en beeld ons mense swak uit. Ons is nie sulke ploerte nie. Bloedbroers se soort storie is beter vir my. Maar geniet julle ander dit nou maar.

Lulu ·

O genadetjie tog! Nou moet ek iets anders soek om te kyk daai tyd van die aand. 7de Laan is NIE ‘n opsie nie en nou nog rugby ook!

herman ·

mag daar meer humor en ligte oomblike wees as die donker en swaar storielyne van die afgelope drie reekse Hoop regtig dat iets kykbaar ontwikkel sal word

Anon* ·

Ag regtig?! Dis nou boring, gaan ons ooit iets he om na te kyk. Ons betaal vrek baie aan DSTV om na herhalings te kyk, en nou moet ons nog na sulke gemors op kyknet ook kyk. Ag nee wat een van die dae kan ons maar sonder kyknet sit, daar is niks meer op wat ek en ek weet baie ander nie wil kyk nie. Ja , ja ek weet julle gaan se kyk iets anders, dis juis, daar is niks anders OM TE KYK NIE! Maar als gaan op. Ons moet maar net betaal. Ek is keelvol!!!!

Ben ·

Baie swak en lae morele waardes gaan niks bydrae aan afrikaanse kyker se opvoeding nie
Het ons dit regtig nodig om na sulke snert te kyk wat niks met ruby in gemeen het nie

Gideon ·

Nie alle mense is gaande oor rugby nie!! ek weet nie hoe julle alle mense gaan boei nie!!

gatvol ·

AG NEE !!!!!! Ek sal die tyd afsit, daar is NIKS anders om te kyk nie! Ek kyk glad nie getroud met rugby nie, stel nie belang nie.
Hoekom vra Karen en die Kyknet span nie die mense se menings nie ? Ek het al hoeveel keer gekla oor die herhalings en daar word gese ons moet gewoond raak daaraan. Ander mense wil ook dit kyk :-(

Paul ·

Dit is ontstellend dat Kyknet (Karen Meiring) hulle weg oopsien om n werklik swak reeks waarin lae morele waardes hoogty vier, in n familie tydgleuf in te stel. Moet die kinders nou kamer toe gestuur word? El weier dat my kinders aan hierdie banaliteit blootgestel word. Om alles te kroon het DsTv se fooie hierdie maand weer verhoog. Dit help nie ons kla op hierdie forum nie. Ons moet eerder n petisie optrek. Sies Kyknet!

Johan Theron ·

Ek is teleugestel dat Rugby yerug kom. My familie het altyd afgeskakel vir hierdie banale en immorele storie.. Ek stem saam met bogenoede kommetaar dat om Kyknet te sien finansiël onmoontlik raak
Waarkan ons iets opbouend sien soos Sluiers ens. Afrikaans is onder geweldige aanval van alle kante af en nou die gemors siesKarin!!!

Adri ·

Albei hierdie reekse, getroud met Rugby en Villa Rosa het ek afgesweer, patetiese storielyne . Ek sal in daai tydgleuf liewers in my tuin werk.

Willem van Rensburg ·

Dit sal nie saak maak wat ons hier sê nie maar dit is baie jammer dat die een patetiese reeks vervang word met ‘n groter pateet. Gelukkig sal dit my nou kans gee om te sit en kyk hoe groei die gras.

Ben ☺☺☺ ·

ek het 12 jaar terug al my tv`s gaan pand, die geld gevat en die internet bestorm – daar kan jy download wat jy wil kyk – nog nie een dag spyt nie – sorry ek kan nie goed 2 keer kyk nie

Rita Henery ·

Sal dit maar vir ewig begrawe. In daai tydgleuf sal ek maar my skottelgoed was.

ana ·

Nee wat hou veby kykNet, geen getroud met rugby program sal in hierdie huis gekyk word nie dankie, maar nee dankie. Villa Rosa was ook maar so,so

Ek ·

Getroud met Rugby is n goedkoop kommin storie, lyk amper of selfs 7de laan se begroting beter is (en dit kyk ek glad nie let wel)…. Akteurs is FLOU en lyk baie keer meer of hul aansit as enige iets anders. Hulle probeer partykeer “te dramaties wees” en dit irriteer my. Die vrouens se rolle is baie goedkoop – Ek sal geen ma aanraai om haar dogter die program te laat kyk nie want geen dogter moet geleer word dat dit toelaatbaar is om jou lyf te gebruik – of te verkoop – vir dit wat jy wil he nie.

Vienna ·

At last, about time Villa Rosa …….
Getroud met rugby, how disappointing.
First Akrikaans series I can’t stand watching for
so many reasons.
Thank goodness for MNet Edge !

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.