kykNET woeker in Afrikaans

Karen Meiring (Foto: verskaf)

Karen Meiring (Foto: verskaf)

As mense hul sit kry voor die televisie om te ontspan wil hulle in hul eie taal vermaak word, want dan voel hulle werklik tuis. En dís hoekom kykNET wéér sy gewig agter die Pendoring-reklametoekennings ingooi as Platinumborg. Dit gaan alles oor Afrikaans.

“Ons kykers skakel in op ons programme omdat kykNET die kultuur, belange en passie van Afrikaanssprekende kykers en kykers wat Afrikaans verstaan, dien. Afrikaans is kykNET se kernbesigheid,” sê Karen Meiring, hoof van Afrikaanse kanale op M-Net.

Volgens Meiring is deur deel te wees van die Pendoring-reklametoekennings op langtermyn in kykNET se belang. “Sterk en volhoubare Afrikaanse reklame is belangrik. Afrikaanse televisie-advertensies is integraal deel van die Afrikaanse ekostelsel en solank as wat ‘n taal kommersiële waarde het, bly dit volhoubaar.

“Daar is geen taal wat beter met ’n mens kommunikeer as die taal van jou hart nie en dit is gewoonlik jou moedertaal. Dit gee aan die kyker die gevoel dat daar moeite gedoen word om met hom in sy taal te kommunikeer – daarom sal hy dan ook moeite doen om ʼn sekere handelsmerk bo ’n ander te kies as hy weer in ’n winkel moet kies tussen ’n handelsmerk wat Afrikaans met hom praat en een wat nie.

Volgens Meiring vind kykNET dat adverteerders om dié rede dikwels hulle advertensies in Afrikaans oorklank en selfs oorspronklik vervaardig.

“Die bewusmaking van die doeltreffendheid van reklame in Afrikaans op ’n kanaal soos kykNET kan maatskappye oortuig om in Afrikaans te bly adverteer. Pendoring is ’n maatstaf hiervoor.

“kykNET se familie van kanale se identiteit is gewortel in die Afrikaanse taalgemeenskap in sy geheel. Ons mandaat is om programme in Afrikaans te vervaardig en te bly vervaardig. Dit is ons bestaansreg. Ten spyte van moeilike ekonomiese tye bly ons optimisties oor die feit dat Afrikaans steeds groot koop en verkoopkrag het. Die kykNET-kanale se ondersteuning bly groei.

“ʼn Nuwe program wat kykers nie moet misloop nie wat so pas begin het, is die geselsprogram VeranderDinge (Sondagaande om 18:00, DStv 144) met Ruda Landman en Kim Cloete as aanbieders. Hulle gesels met bekendes oor lewensveranderende keerpunte in hul lewens – die persoonlike en dikwels pynlike goed waaroor hulle nog nooit wou praat nie. Ons loods ook vanjaar ’n derde Afrikaanse sepie wat in die Wes Kaap afspeel. Ons is baie opgewonde oor Afrikaans en al die hoogsopwindende projekte wat kykNET kan aanpak as gevolg daarvan,” sê Meiring.

• Die Pendoring-toekennings vind op 30 Oktober by Vodacom World, Midrand, in Gauteng plaas. Inskrywings vir advertensies en veldtogte wat van 1 Julie 2014 en tot en met 31 Julie 2015 verskyn het of uitgesaai is, mag ingeskryf word. Die verlengde sluitingsdatum is 7 Augustus 2015. Inskrywings word aanlyn gedoen by www.pendoring.co.za

Pendoring wil graag die volgende borge bedank:
Platinum: Huisgenoot, ATKV, kykNET, Die Dagbreek Trust en Media24.
Goud: Toyota
Silwer: Rapport
Brons: Die Burger, Ads24,Caxton-gemeenskapskoerante, Jacaranda FM en OFM.
Vennote: Maroela Media, DEKAT, kulula.com, Leopard’s Leap Wines, Marklives.com, Newsclip, Bizcommunity en Vodacom World

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Elsa van Gass ·

Dit maak my hart my hart net baie seer dat so baie gemengde taal op Kyknet se programme gebruik word. As ‘n mens trots is op jou Taal sal jy dit bewys deur dit SUIWER te praat !!

George ·

Karen en Kyknet, baie dankie vir wat julle vir ons en ons taal doen. Ek merk op dat daar ook ‘n beweging onder die kunstenaars is om meer suiwer Afrikaans te praat. Ons gaan hierdie stryd wen.

Hector ·

Ek mis werklik die lewendige 6 uur nuus saam met my koffie op kykNet. Ek dink die oggend program was saaklik, intressant, snaaks en informatief. Dit was kortsigtig om dit te kanselleer.

Hansie ·

Stem beslis saam. Dis amper nou ‘n leegte. Dit was aangenaam en ontspanne. Kan dit nie heroorweeg word nie?

Edwin ·

afrikaans is bo,vra maar vir Riaan Cruywagen. Dis die kunstenaar en die jeug wat rommel Afrikaans praat en dink dit is oulik en modern maar dis so irriterend om te hoor en so plat

anti-herhaling ·

HERHALINGS en nogmaals HERHALINGS van soveel programme. Kan daar nie iets aan gedoen word nie ??? Ons betaal daarvoor en kry herhalings. Mense het al so baie gekla maar daar word NIKS aan gedoen nie!! Kyknet het baie agteruit gegaan. Villa Rosa, n puik reeks word afgehaal ! Ek skakel oor na n ander kanaal net om nie die herhalings te kyk nie. Ons is GATVOL daarvoor.

Paul ·

Jammer, Karen, maar die oorgrote meerderheid van advertensies op Kyknet is in Engels! En dieselfde advertensies word tot vervelens toe herhaal. Dankie tog vir ‘n pvr.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.