Kyla mag eers weer later perdry

Kyla Rouvoet. Foto: Facebook

Kyla Rouvoet (16) het geen breuke of breinskade opgedoen ná Saterdag se voorval waar haar perd op haar geval het nie.

Kyla, ʼn kunsruiter, is na die Mediclinic Sandton gehaas nadat Mighty Star (9) op haar geval het kort voor sy aan die Suid-Afrikaanse vereniging vir ruiterkunsskole (Sanesa) se dresseer-kompetisie by Eaton Farm naby Kyalami sou deelneem.

Steven Rouvoet, Kyla se pa, het gesê dit gaan goed met sy dogter en dat sy na ʼn gewone saal oorgeplaas is. Kyla het Maandag ʼn CT-skandering ondergaan en sal vandag nog toetse ondergaan wat haar breinfunksies monitor.

Kyla het wel konvulsies gekry en sal vir die volgende ses maande behandeling daarvoor moet ontvang om die risiko dat dit weer kan gebeur te verklein. Kyla sal moontlik die week nog uit die hospitaal ontslaan word, maar mag vir die volgende vier weke nie op ʼn perd klim nie.

Rouvoet sê hy en sy vrou pendel intussen daagliks tussen Pretoria en Johannesburg om by hul dogter in die hospitaal te wees. Die egpaar het ook ʼn jonger seun.

Maroela Media het vroeër berig Kyla kan nie die voorval onthou nie. Sy was aanvanklik aan ʼn ventilator gekoppel en onder verdowing.

Kyla het reeds Saterdag op Mighty Star se rug gesit toe hy geskrik en agteruit beweeg het. Hy het in die proses sy balans verloor en bo-op Kyla geval. Die perd is nie beseer nie.

Kyla is per helikopter na die Mediclinic Sandton geneem. Rouvoet het gesê sy dogter, ʼn gr. 11-leerder aan die Hoërskool Garsfontein, ry al van gr. 5 af perd en neem sedert dié jong ouderdom ook reeds aan kompetisies deel.

Die gesin woon in Pretoria en besit die Rocky View Stables.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.