KZN-vloede: 59 sterf; gerugte van plundering wek kommer

Dele in KZN het tot 300 mm reën in 24 uur gekry (Foto: Verskaf)

Gerugte oor die plundering van vragmotors en vraghouers in die vloedgeteisterde gebiede in KwaZulu-Natal saai groot kommer.

Die DA sê hierdie gerugte is uiters kommerwekkend en het die plundering ten sterkste veroordeel. Die party het Bheki Cele, minister van polisie, versoek om in te gryp deur die polisie in die provinsie op gereedheidsbasis te plaas.

Die DA meen die provinsie kan nie dieselfde katastrofiese gevolge van verlede jaar se onrus bekostig nie. En dit nog saam met die oorstromings wat tans ʼn humanitêre krisis in die provinsie veroorsaak.

Die dodetal in die provinsie weens die oorstromings het teen Dinsdagaand tot 59 gestyg. Altesaam 45 van hierdie sterftes is in Ethekwini (Durban-metro) aangemeld. Die oorblywende 14 is in die iLembe-distrik bevestig.

Die rampbestuurdepartement in KwaZulu-Natal het inwoners versoek om tuis te bly en diegene wat in laagliggende gebiede woon, beveel om na hoërliggende gebiede te verskuif.

Meer as 2 000 huise en 4 000 informele huise is beskadig en sowat 140 skole is deur die oorstromings geraak, het Sihle Zikalala, provinsiale premier, bevestig.

Reddingsoperasies, bygestaan deur die weermag, is aan die gang om mense wat in geaffekteerde gebiede vasgekeer is, na veiligheid te bring.

Swaar reën sak al sedert die naweek uit in die provinsie en het tot gevolg gehad dat verskeie gebiede oorstroom het, huise en infrastruktuur verwoes is, terwyl grondverskuiwings daartoe gelei het dat treindienste onderbreek is. Talle strate en brûe is oorstroom sodat slegs die bopunte van verkeersligte uitgesteek het, wat dit soos duikboot-periskope laat lyk.

Mxolisi Kaunda, burgemeester van Durban, het vroeër gesê kragstasies is oorstroom en watertoevoer ontwrig — en dat selfs begraafplase nie die verwoesting gespaar is nie.

Maroela Media het vroeër berig dele in KwaZulu-Natal het oornag meer as 300 mm reën gekry.

Pres. Cyril Ramaphosa sal Woensdag die vloedgeteisterde dele in die provinsie besoek om ondersteuning aan die gemeenskappe wat deur die oorstromings geraak is, te bied en die reaksie van die regering en die burgerlike samelewing op hierdie kritieke situasie te evalueer.

Volgens Ramaphosa vereis hierdie situasie ʼn effektiewe reaksie deur die regering in vennootskap met gemeenskappe.

“Ná die oorstromings is ons genoop om as ’n nasie bymekaar te kom en bystand te bied aan diegene wat ons sorg en ondersteuning desperaat nodig het,” het Ramaphosa in ’n verklaring gesê.

Tyrone Seale, Ramaphosa se woordvoerder, sê die president se besoek volg op vergaderings Dinsdagaand van die Nasionale Rampbestuursentrum en die Interministeriële Komitee oor Rampbestuur. Die Nasionale Rampbestuursentrum koördineer ingevolge die Wet op Rampbestuur geïntegreerde reaksies op rampe deur alle sfere van die regering, die private sektor en die burgerlike samelewing.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Elize ·

Wys jou net dat water hulle nie eers kan keer nie wat nog van hierdie patetiese regering. Hulle is so gebore en sal so aangaan

E ·

59 mense dood-sjoe dis erg net in een erge vloed oor omtrent 2 dae, uiters kommerwekkend

RB ·

Nou ja toe! Nasie moet bymekaar kom om te help in krisis maar ‘our people’ plunder terwyl mense in nood is. Natuurlik by hul leiers geleer wat staatskas plunder terwyl die land in nood is!!

Nietemin is die gemeenskappe van KZN in my gebede. Gee gedagte aan Noag, toe God besluit het Hy het genoeg gehad van goddelose mense. Soek die reënboog, onthou die belofte en gee gehoor want geen mens is verhewe bo die Woord, sy beginsels en waarheid nie.

Jr ·

Scum of the earth on maneuvers again. En as hulle verhoed word om dit te doen, dan is die wetsgehoorsame burger die kriminele en die plunderaar die viktim alweer.

Bertie ·

Hoekom nog verbaas oor die plundering? Dis mos hoe ons ons mense ken!

efjy ·

Waar is ons “waaksame” polisie. Of gaan hulle nou eers twee dae later agterkom oor die plundery. Dit gebeur helder oordag. Of is die polisie deel daarvan.

Watsenaam ·

As ek arm, sleg en honger is, sal ek maak net soos die voorbeeld wat ek van die regering se ministers kry. Sodom en Gamorra as voorbeeld:. As ek een regverdige in die lands leiers kry spaar die land asb.

Swerwer ·

Nou staan dit hard en duidelik uit dat die huidige Regering /plaaslike Regerings onbevoeg is.

domheks ·

Hoe kan die kameraman weet van die plundering maar cele en kie sien en hoor niks! VIVA cele/anc!

Christa ·

Hoop die mense wat die tenders gekry het om die infrastruktuur te onderhou en te bou waar nodig, is nou tevrede met hulself – dit was nie KFC geld nie! Hierdie regering beter wakker skrik! Alles is op die afdraande pad. En soos daardie modderstortings is daar geen keer aan die oppertunistiese plunderaars nie – tipiese ANC nalatenskap!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.