KZN-boere ly groot skade tydens oorstromings

Die oorweldigende massas water het boorde en landerye meegesleur. (Foto: SA Suikerrietkwekers)

Die heersende weerstoestande in KwaZulu-Natal het reeds sy tol in die landbousektor begin eis en volgens KwaZulu-Natal se landbou-unie (Kwanalu) gaan die groot skade wat aan infrastruktuur veroorsaak is, waarskynlik langtermyn gevolge vir die bedryf hê.

Volgens Sandy La Marque, uitvoerende hoof van Kwanalu, skep die verwoesting wat die oorstromings veroorsaak het logistieke probleme, wat die uitvoer van produkte en invoer van landbouverwante goedere aansienlik bemoeilik.

“Uit die verslae wat ons ontvang het, is dit die Middellande, asook die noordelike en suidelike kusstreke wat blykbaar die ergste geraak word, maar daar kom steeds nuus in.

“Die deurvloei van goedere word ernstig beperk, veral omdat paaie en brûe rondom die hawe beskadig is. Daarmee saam is dit moeilik om toegang tot aflaai- en versamelpunte vir landbouprodukte en voorrade wat tydsensitief is te verkry.

Dr. Thomas Funke, uitvoerende hoof van SA Suikerrietkwekers, sê hy is uiters bekommerd oor die swaar reën en die invloed wat dit op suikerrietbedryf het. “Die neerslag het van 300 mm tot 514 mm in sommige gebiede gewissel, wat ʼn verwoestende impak in daardie dele van die provinsie gehad het.

“Die huidige reënval is bo normaal en het groot skade aan infrastruktuur, suikerrietlande, plaasdamme, paaie, brûe, elektrisiteitstoevoer en internetdienste aangerig. SA Suikerrietkwekers het ook berigte ontvang dat een meule tot dusver groot skade opgedoen het weens die oorstromings,” sê hy.

“Aangesien die vermoë van die suikerrietmeulens te kort skiet, sal langtermynskade aan hierdie aanleg ʼn beduidende impak op produsente hê, omdat die hoeveelheid riet wat nie verwerk word nie weens ʼn gebrek aan maalkapasiteit sal ophoop.

“Ons sal alles in ons vermoë doen om produsente in hierdie moeilike tyd by te staan. Ons werk saam met ons lede deur ons streekkantore om die omvang van die skade te bepaal en die waarskynlike verliese te kwantifiseer.

Ons gedagtes en gebede is met almal in die provinsie wat deur die huidige oorstromings geraak word.

Paaie en brûe is ook meegesleur. (Foto: SA Suikerrietkwekers)

La Marque sê boonop vererger die swak toestande van die paaie die probleem aansienlik.

“Kwanalu, Agri SA en ander provinsiale unies het onlangs kommer uitgespreek oor die swak padtoestande in landelike gebiede en die beduidende impak wat dit op voedselsekerheid, die landbousektor en ekonomiese groei het. Sonder goeie infrastruktuur en basiese dienslewering sal die impak steeds ernstig wees, wat groei-, indiensnemings-, beleggings- en uitvoergeleenthede benadeel.

“Hierdie ramp wat KZN getref het demonstreer hoe broos die landbousektor is, en hoe belangrik dit is om voorkomende maatreëls gereed te hê en instandhouding te doen. Die dringendheid om dié optrede ’n prioriteit te maak, het nou selfs meer pertinent vir die landbousektor geword.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.