KZN: Eers te veel water, nou te min

Die City Hill Church-gemeente het Dinsdag 1 000 kospakkies vir behoeftiges in vloedgeteisterde gebiede gepak. (Foto: Verskaf / Sam Jordt)

In die nasleep van die verwoesting wat deur rampspoedige oorstromings in KwaZulu-Natal veroorsaak is, verdiep kommer oor watertekorte ook.

Die probleem word hoofsaaklik toegeskryf aan die enorme skade wat die vloede van die afgelope paar dae aan onder meer die waterinfrastruktuur in dié provinsie aangerig het.

Duisende mense in landelike en stedelike gebiede sit al langer as ʼn week sonder water. Selfs mense wat nie regstreeks deur die vloede geraak is nie, ondervind watertekorte weens skade aan die watersuiweringsaanleg. Dit sluit gemeenskappe in Durban, Tongaat en Verulam in, asook kusgemeenskappe soos Amanzimtoti, suid van Durban, en omliggende dorpe en nedersettings in die gebied.

“Die grootste behoefte tans is water. Ons kon darem al ʼn paar vragte water aan gemeenskappe lewer en baie mense span kragte saam om te help. Ander behoeftes sluit in kos, skoonmaak- en sanitêre produkte, komberse, boumateriaal en skoolbenodigdhede soos klere en skryfbehoeftes,” het dr. Imtiaz Sooliman, stigter van die liefdadigheidsgroep Gift of the Givers, Dinsdag aan Maroela Media gesê.

Oorstromings in die Durban-gebied het reeds meer as 400 lewens geëis en groot skade aan infrastruktuur aangerig. (Foto: Rajesh Jantilal/AFP)

Die organisasie het tans talle mense wat gemeenskappe in vloedgeteisterde gebiede bystaan. Meer as R140 000 is ook reeds op die Back-a-Buddy-platform aan die organisasie se hulpinisiatief geskenk.

André Beetge, ʼn DA-wyksraadslid in die eThekweni-metro, sê meer as 400 000 mense word oor ʼn 30 km-radius in die suidelike wyke geraak. Hy sê hierdie inwoners het sowat 100 megaliter water per dag nodig, terwyl net 20 megaliter tans beskikbaar is.

Buiten dat daar nie genoeg water is om die vier reservoirs in die gebied op te vul nie, het die 800mm pypleiding oor die Umlazi-kanaal weggespoel. Daar is ook nie genoeg watertenks om aan die reusebehoefte te voldoen nie.

Beetge sê daar is ongeveer een tenk vir elke 1 000 inwoners nodig, terwyl daar tans net sowat 110 tenkwaens beskikbaar is.

“Umgeni-water en die departement van samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta) het nog tenkwaens beloof, maar dit het nog nie gekom nie,” sê Beetge.

Hy is verantwoordelik vir wyk 97 en staan ook inwoners van wyk 93 by. Dié wyke sluit dorpe soos Amanzimtoti, Illovo, Isipingo, Warner Beach, Winklespruit, Kingsburgh, Umkomaas en Umgababa in.

Reuseskade aan Bayheadweg, op pad na die Durbanse hawe , het groot ontwrigting veroorsaak. (Foto: TrafficSA/Twitter)

Mense in landelike gebiede kan ook nie water in stedelike gebiede kry nie, aangesien daar ook ernstige tekorte is.
Beetge sê egter dat die gemeenskap en talle organisasies hul harte oopmaak om mense op verskeie maniere by te staan.

Sam Jordt, ʼn inwoner van Hillcrest, sê inwoners in hul gebied was teen Dinsdag al agt dae sonder water. Mense met swembaddens en boorgate kan nog ʼn plan maak, terwyl ander se opsies uiters beperk is. Jordt sê sy het van die begin af ʼn nare gevoel gehad oor die ramp wat die provinsie getref het.

“Daar was net iets anders aan hierdie reën. Dit was hard en aanhoudend.

“Die skade wat aangerig is, is wyd en ver … nooit gedink dit sou so erg wees dat mense en huise deur modder meegesleur word nie. Dis baie hartseer. Die Here het egter ʼn plan, ons sal hierdeur kom.”

Jordt is ʼn lid van die City Hill Church-gemeente wat Dinsdag 1 000 kospakkies vir behoeftiges in vloedgeteisterde gebiede gepak het. Hulle verwag nog ʼn besending teen Donderdag en hoop om dan nog 1 000 kospakkies te pak.

“Dit behoort ʼn gesin darem vir ʼn paar dae te hou.”

Lidmate van die gemeente het ook komberse, beddegoed, handdoeke en ander huishoudelike items geskenk.

“Die buurtwagte in die gemeenskap is ook aktief by baie hulpprojekte betrokke, asook ander pastore en mense. Almal probeer maar help waar hulle kan.”

Woonstelblokke is verwoes deur vloede in Umhloti, noord van Durban. (Photo by MARCO LONGARI / AFP)

Sharon Swift, ʼn inwoner van Winklespruit, sê haar huiswerker het al 10 dae nie water in haar omgewing nie. Sy woon in Umgababa.

“Die mense in die informele gebiede kry veral swaar. Ons kan nog water by Checkers en Pick n Pay koop, maar hulle het geen hulp nie. Baie ouetehuise in die omgewing sukkel ook sonder water. Mense het al watertenks in hul private hoedanigheid geskenk, wat reeds baie help.”

Sy sê om nou vir water te bid voel soos om tussen twee vure te sit.

“Dis vreemd. Jy bid vir water en reën – want ons is afhanklik daarvan. Terselfdertyd wil jy nie hê dit moet ooit weer só baie reën nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

JM ·

“Cogta het nog tenkwaens beloof, MAAR DIT HET NOG NIE GEKOM NIE” …
Word net wakker!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.