KZN-gesondheidshoof bedank ná onkologieskandaal

Argieffoto

Dr. Sifiso Mtshali, KwaZulu-Natal se hoof van gesondheid, het bedank te midde van ʼn kankerpasiëntkrisis en ʼn skandaal rakende die herstel van onkologiemasjiene in die provinsie.

Willies Mchunu, premier van KwaZulu-Natal, het Donderdag Mtshali se bedanking bevestig. Dit volg nadat die provinsiale regering onlangs ʼn reuse-ingryping van stapel gestuur het om bestuurs- en administrasieprobleme in die provinsiale departement van gesondheid aan te pak.

Mchunu het gesê hy was deurentyd in gesprek met die provinsiale bestuur, veral dr. Sibongiseni Dhlomo, die LUR van gesondheid, en Belinda Scott, die LUR van finansies, in ʼn poging om die probleem van onkologiemasjiene wat nie herstel word nie, op te los.

“Onder die kwessies wat ons bespreek het, is die probleem oor die herstel van onkologiemasjiene en die aanstelling van die maatskappy KZN Oncology om dit te doen. Die departement het regstappe gedoen om die ooreenkoms met KZN Oncology ter syde te laat stel en om geld wat reeds betaal is te laat terugbetaal,” het Mchunu in ʼn verklaring gesê.

“Ek het gemeen dit sal gepas wees om dr. Mtshali te skors hangende die uitkoms van die ondersoeke. Dr. Mtshali het nie die bewerings teen hom erken nie, maar wel aangebied om te bedank as die provinsiale regering vertroue in hom verloor het.”

Mtshali is verlede maand geskors oor die provinsie se onkologiekrisis wat tot die dood van ʼn onbevestigde getal kankerpasiënte gelei en die uittog van talle onkoloë in die staat se diens veroorsaak het. Hy is in Junie 2015 as die hoof van die departement aangestel nadat hy in beheer van die Inkosi Albert Luthuli Sentrale Hospitaal was.

Daar word beweer die aanstelling van KZN Oncology om die onkologiemasjiene by Addington-hospitaal in Durban te herstel, was onreëlmatig en onwettig. Die bewerings het baie media-aandag getrek en wyd opslae gemaak.

Mchunu het aangevoer hy het besluit om Mtshali se bedanking te aanvaar gegewe die erns van die bewerings, asook om verdere regs- en forensiese koste te vermy en die kwessie spoedig af te handel.

“Ek het die saak informeel met die LUR’e vir gesondheid en finansies bespreek en daar is saamgestem dat dit in die beste belang van almal betrokke is om die saak so gou moontlik af te handel en stabiliteit terug te bring na die provinsie se gesondheidsektor,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

bgj van der westhuizen ·

as die staat sy onderhoud mense by hospitaal hou en nie almal af betaal het nie en sal onderhoud gedoen word maar almal word mos af betaal wand alles moet mos nou kontrakteer wees

Hanna ·

Staats Kontrakte is net rookskerms vir bedrog.
Procurement personeel behoort gereeld leefstyl audits deur te gaan.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.