Kol. Jay Naicker, woordvoerder van die polisie, het gesê Sibongiseni Mdakane het Maandag in die hooggeregshof verskyn waar hy skuld erken het vir die moorde op Vusi Ntombela (47), ʼn onderwyser, en Elizabeth Nhleko, ʼn 14-jarige leerder.
Mdakane het op 2 Junie omstreeks 09:30 ʼn klaskamer by ʼn skool in die Luvisi-omgewing ingestorm en Ntombela en Nhleko doodgeskiet. ʼn Tweede 12-jarige leerder is ook gewond. Mdakane is binne ʼn uur saam met twee ander verdagtes vasgetrek en die moordwapen is in hul besit gevind.
Mdakane is Maandag skuldig bevind op twee aanklagte van moord en een van poging tot moord.
Volgens Naicker het Mdakane se medebeskuldigdes nog nie gepleit nie en gaan die saak teen hulle steeds voort. Naicker wou ook nie bespiegel oor die motief vir die moorde nie. “Die saak is steeds voor die hof en daarom kan ons in hierdie stadium nie meer besonderhede bekend maak nie,” het hy gesê.
Mbhekiseni Khambule (38), die man wat die huurmoordenaar glo R15 000 vir die moorde betaal het, sal intussen Dinsdag in die Nquthu-landdroshof verskyn.