KZN-huurmoordenaar sit lank

Argieffoto

Argieffoto

ʼn Huurmoordenaar is Dinsdag in die Pietermaritzburg-hooggeregshof gevonnis nadat hy op alle aanklagte teen hom skuldig bevind is, waaronder die moord van ʼn onderwyser en tiener in KwaZulu-Natal.

“Sibongiseni Mdakane is tot lewenslange tronkstraf gevonnis vir die moord van Vusi Ntombela (47), en 18 jaar tronkstraf vir die moord op Elizabeth Nhleko (14),” het maj. Thulani Zwane, woordvoerder van die polisie, in ʼn verklaring gesê. “Hy is tot agt jaar tronkstraf gevonnis vir poging tot moord op ʼn 12-jarige leerling, vyf jaar vir die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen en drie jaar vir die besit van ammunisie sonder ʼn lisensie.”

Maroela Media het vroeër berig Mdakane het Maandag in die hooggeregshof verskyn waar hy skuld erken het vir die moorde.

Hy het op 2 Junie omstreeks 09:30 by een van Luvisi Primary School se klaskamers ingestorm en Ntombela en Nhleko doodgeskiet en die 12-jarige skolier gewond. Hy is binne ʼn uur saam met twee ander verdagtes vasgetrek en die moordwapen is in hul besit gevind.

Mbhekiseni Khambule (38), die man wat Mdakane glo R15 000 vir die moorde betaal het, het ook Dinsdag in die Nquthu-landdroshof verskyn. Hy moet op 14 Julie weer in die hof verskyn vir sy aansoek om borgtog.

Kol. Jay Naicker, woordvoerder van die polisie, wou nie vroeër bespiegel oor die motief vir die moorde nie. “Die saak is steeds voor die hof en daarom kan ons in hierdie stadium nie meer besonderhede bekend maak nie,” het hy gesê.

Lt.genl. Mmamonnye Ngobeni, provinsiale polisiekommissaris, is tevrede met die vonnis vir ʼn man wat “koelbloedig onskuldige mense vermoor het net omdat hy gehuur is om dit te doen”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Peet Schabort ·

En so kry die tronke al meer en meer permanente inwoners.

Winston ·

Ja Peet. Maar onthou hy het nog baie “werk” wat wag. Sal oor jaar of so weer amnestie kry omdat tronke oorvol is. HUUR MOORDENAARS MOET GEHANG WORD!

Se Maar Net ·

Winston dit is nou as hy solank gaan sit. As al die skelms gehang moet word, staan ons
dalk ‘n kans. Maar dit is die groot rede hoekom die doodstraf afgestel is, en die wat permanente inwoners is in die luukse tronke stemreg het. Jy ken die spreukwoord …. teen donderweer!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.