KZN-inwoners glo steeds ‘diamante’ is hul uitkoms

ʼn Seun hou ʼn klip vas wat volgens hom ʼn diamant kan wees by KwaHlathi naby Ladysmith in KwaZulu-Natal (15 Junie 2021) (Foto: Phill Magakoe/AFP)

Enkelma Lihle Magudulela het ʼn mondvol grond uitgespoeg toe sy aan ʼn klippie gesuig het wat sy op ʼn heuwel in KwaZulu-Natal uitgegrawe het, oortuig dat sy dalk ʼn diamant gevind het.

Duisende het reeds na die buitewyke van KwaHlathi buite Ladysmith gestroom ná ʼn beeswagter verlede week op ʼn handvol ongeïdentifiseerde kristalagtige stene afgekom het.

Nuus van die vonds het vinnig versprei en talle het hulle na die perseel gehaas ondanks waarskuwings deur die regering dat die klippe waardeloos kan wees.

Teen sonsopkoms het mans en vroue grond met pikke en grawe omgedolwe, en met hul kaal hande gretig deur die grond gesoek.

Talle het op nog van die geheimsinnige klippe afgekom en dit opsy gesit in klein hopies.

“Hulle is eg,” het Magudulela trots gesê. Sy is ʼn enkelma in haar 40’s wat sukkel om haar drie kinders te onderhou. “Ek gaan ʼn kar en ʼn huis koop en my kinders na ʼn privaat skool stuur,” het sy aan AFP gesê.

Die vooruitsig om ʼn diamant te vind, het vir talle hoop gegee in een van die armste streke in die land terwyl die pandemie werkloosheidsvlakke opgestoot het.

ʼn Groep vroue wat deurnag op soek was na diamante by KwaHlathi, KwaZulu-Natal (15 Junie 2021) (Foto: Phill Magakoe/AFP)

Suid-Afrika is internasionaal bekend vir sy minerale welvaart en hou steeds die rekord vir die wêreld se grootste ru-diamant-ontdekking – die Cullinan – wat in 1905 in Cullinan gevind is.

“Ons is arm, ons is werkloos, maar hierdie kan alles verander,” het Precious (38), wat nie haar volle naam wou gee nie, gesê. Sy het deurnag gegrawe saam met haar tienerseun en babadogtertjie. Die seun het aan ʼn deursigtige kristal, so groot soos ʼn tafeltennisbal, vasgeklou. “Hulle is nie moeg nie; ons soek geld,” het Precious bygevoeg.

Volgens gerugte is die Cullinan, wat ongeslyp meer as 3 000 karaat groot was, gevind waar hy net ʼn paar meter onder die grond gelê het. Hy is glo met ʼn knipmes uitgegrawe. Dié diamant het nege groot diamante voortgebring wat in die Britse kroonjuwele gebruik is asook 100 kleiner diamante.

Thulani Manyathi (36) het saam met sy vier jong dogters meer as 300 km van die Alexandra- informele nedersetting in Johannesburg na KwaHlathi gereis. “Ons gaan in Doebai bly. Ek wil ʼn huis met ʼn dubbelmotorhuis hê. Hierdie gaan ons lewe verander,” het Manyathi aan AFP gesê, met ʼn hopie stene in sy sak. “Geen skool vandag nie. Ons is op soek na diamante.”

ʼn Man gebruik ʼn pik op soek na diamante by KwaHlathi in KwaZulu-Natal (15 Junie 2021) (Foto: Phill Magakoe/AFP)

Daar is gerugte dat “uitlanders” die stene vir ʼn paar honderd rand in die nabygeleë Ladysmith koop. Kenners sê egter dit is onwaarskynlik dat die stene waardevol is.

“Hierdie is nie diamante nie; mense mors hul tyd,” het die 18-jarige Bhekumuzi Luvuno gesê en skepties een van die klippies ondersoek wat hy oornag uitgegrawe het.

Owerhede het tevergeefs oor die naweek die diamantgrawers gevra om die gebied te verlaat – weens koronavirus-beperkings.

Maroela Media het vroeër berig die departement van minerale hulpbronne en energie gaan Dinsdag ’n span geologiese en mynboukenners na KwaHlathi stuur om ondersoek in te stel na die beweerde ontdekking van diamante in dié omgewing. Die departement het Maandag in ’n verklaring gesê hy is bewus van berigte in die media sowel as foto’s en video’s op sosiale media waarin daar beweer word dat diamante in die omgewing van KwaHlathi ontdek is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

26 Kommentare

jongste oudste gewildste
Willem

Dalk die virus wat versteen het

Johan

Stem net reg dan sál alles verander, Precious.

Loun

As hulle klaar gepik het kan hulle net mielies in die grond sit……. hulle sal dalk meer uit dit kry…….

Pietertjie

Hoekom verafsku mense die waarheid?

Jerry

Miskien kan die regering pikke en grawe stuur en ook behuising en lopende water….. Keep on dreaming!