KZN kinderhuise terug hof toe oor kinders

Phili Mngomezulu, een van die kindersorgwerkers by Môrester Newcastle, by die ingang wat versier is in afwagting op die kinders se terugkeer. (Foto: Anel du Preez)

Die regspan van die KwaZulu-Natalse Christelike maatskaplike dienste (CSS) was Vrydagmiddag terug by die hof in Pietermaritzburg nadat die sowat 200 kinders van drie van sy kinderhuise nie na die huise teruggebring is soos die hooggeregshof Woensdag beveel het nie.

“Dit gaan vandag minder goed as gister. Die kinders is nie terug nie. Ons het so gehoop hulle kom vandag, maar hulle is nie teruggebring nie,” sê ds. Gerhard Botha, uitvoerende hoof van CSS. Hy het telefonies met Maroela Media gepraat uit Pietermaritzburg waar CSS se regspan tans besig is om ʼn hofaansoek in te dien.

Botha sê die jongste regstappe kom nadat die KwaZulu-Natalse departement van maatskaplike ontwikkeling die hofbevel verontagsaam het wat volgens hom beslis het dat die kinders binne 36 uur nadat die bevel gemaak is aan die kinderhuise terugbesorg moet word.

Geskenke staan gereed ter voorbereiding vir die kinders se terugkeer. (Foto: Anel du Preez)

Ncumisa Ndelu, woordvoerder van die departement, verskil egter hiervan en sê aan Maroela Media die kinders moet volgens die bevel na die kinderhuise teruggeneem word binne 36 uur nadat die bevel op die departement beteken is. Volgens Ndelu is die bevel eerste gistermiddag omstreeks 15:30 op die departement beteken en het daar dus sedertdien nog nie eers 24 uur verloop nie.

Op ʼn vraag of die departement wel van plan is om die kinders na die kinderhuise terug te neem, het Ndelu geantwoord “die regspanne is besig met die saak” en die departement sal inligting aan die media deurgee “sodra daar verwikkelinge is”.

Sy het ook genoem dat die LUR vir maatskaplike ontwikkeling en die hoof van die departement tans druk besig is met ʼn lekgotla wat in die provinsie gehou word.

Maroela Media het vroeër berig die kinders is verlede week Vrydag en Saterdag skielik deur beamptes van die departement uit Môrester Ladysmith, Môrester Newcastle en Huis Meah in Newcastle verwyder en onder dwang na onbekende bestemmings geneem. Die departement voer aan die kinders is verwyder nadat bewerings van fisieke, verbale en emosionele mishandeling, asook rassisme by een van die kinderhuise, onder die departement se aandag gekom het.

Die babahuis word skoongemaak as deel van die voorbereiding vir die kinders se terugkeer. (Foto: Anel du Preez)

Die departement het egter tot op hede nog nie meer besonderhede bekendgemaak oor die beweerde voorvalle van mishandeling, wie daarby betrokke was of wanneer dit plaasgevind het nie. Botha het vroeër gesê hy betwyfel die geloofwaardigheid van hierdie aantygings, maar die CSS is bereid om hul volle samewerking te gee aan ʼn ondersoek om die waarheid vas te stel.

Intussen staan die verwelkomingsbaniere, -geskenke en -eetgoed onaangeraak by Môrester Ladysmith, Môrester Newcastle en Huis Meah in Newcastle waar personeel opgewonde voorberei het vir die kinders se terugkeer. Die kamers is geskrop, tafels is gedek en ingange is versier in afwagting op die kinders se koms.

Personeel by die kinderhuise het egter nie hoop verloor dat die stil gange binnekort weer deur die geluid van kinderstemme gevul sal wees nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

Thinus Erasmus ·

Tegniese punte, skuiwergate en vertragings taktiek. ANC regering se sterkste talente!
Ek hoop die hof reik lasbriewe uit teen die oortreders en hulle word sommer vanmiddag nog in die selle geboek vir die naweek! (met gewapende begeleiding)
As net een kind weg is wat hul op beslag gele het, moet daar saak van ontvoering oop gemaak word.
En praat CR oor dit alles? Het ons nog ‘n minister wat besorgd is oor kinders en wese?
Ek hoop die regter en hof het “guts” om teen die ANC amptenare met drastiese stappe op te tree!
Die volgende wat ons gaan hoor is dat een kind of baba mooontlik, gesterf het – wie is dan verantwoordelik?

Mickey ·

Jinnetjie tog ek hoop nie hulle het n paar kindertjies langs die pad verloor nie. Hierdie strorie word nou te lank uit gerek. Waar is die kinders!!! Is die ouers al ingelig oor waar hulle kinders is.

Mickey ·

Maroela ek wil net baie dankie sê dat julle ons op hoogte hou met hierdie saak!

Regtig?? ·

My bloeddruk is nou so hoog ek kan iets oorkom! Hulle het nie gras onder hulle voete laat groei om die kinders uit hulle veilige hawe te ontvoer nie, maar nou vat hulle hulle goeie tyd!! Of dalk kan hulle die helfte van die kinders nou nie weer opspoor nie… Ek bid dat die onbevoegde, kwaadwillige mense wat verantwoordelik is hiervoor krimineel vervolg sal word.

Nadia ·

Dit breek my hart!!! Die kinders is klaar soveel deur in hulle lewe en nou nog die drama ook! Kinders is kinders hulle verdien net liefde.

KIEWEIT ·

Esidimeni 2. Geen aanspreeklikheid nie en later…. Soo sorry eish

Koos de Meyer. ·

Pleks dat hulle hulle bemoei met dinge wat saak maak. Sulke dinge maak mens warm onder die kraag, en dan verontagsaam hulle ‘n hof bevel. Siek is eintlik nie die woord nie.

aj ·

NAME and SHAME die amptenare!!!

Sit fotos op …. laat ALMAL weet wie die eiegeregtige ANC kaders is.

Sodat die ouers en familie van die kinders weet watter individuele amptenare om te vervolg!

Skuus ·

Ek dink die mense gaan nou eers naweek hou. Ons almal weet hul werk nie op n Vrydag want die naweek het begin en is eers weer Dinsdag aan die gang. Maandag herstel hul van hul Sondagnag parties.

Hannetjie ·

Skuus..jy is so reg.Dit is nou eets ‘rus’ vir die ‘oorwerkte amptenare’.En eers ‘eet’.Die ANC nie die regering nie..’besit’ die burgers en hul kinders.Dit is een van hulle maniere om daar te slaan as hul standpunt wil bewys.

Marietta ·

Anoniem
Wie se nie hulle is betaal om dit te doen nie en dan raak die kinders weg by die ander tuistes en word deel van mensehandel. Iewers ruik ek rot.

Hanna Hoekom ·

Ek vermoed dit gaan oor die kindertoelaes. Iewers wil iemand geld uit die kinders probeer maak. En nee, niemand gaan aanspreeklik gehou word nie. Mark my words!

My mening ·

Hoe KAN hulle dit aan die kinders doen?! Ek weet nie hoe leef hulle met hulself saam nie, maar dan- hulle het heel waarskynlik nie die vermoe om empatie te voel nie. Ek hoop erens is iemand wat hulle oor hierdie misbruik van mag en mishandeling van die kinders kan aanvat. Ek hoop dat die kinders gou terugkom en bid dat hulle hierdie aaklige tyd kan verwerk.

Alida ·

Ek hoop hulle kry n vet kostebevel teen hulle. Die Regter moet die amptenare persoonlik verantwoordelik hou. Die verskoning gaan 10/1 wees dat hulle nie vervoer gehad het nie. Gebruik dieselfde vervoer waarmee hulle kwaadwillig verwyder is. Vieslike gemors.

Ellisras ·

Wat het geword van minagting van die hof. Die Dept het al in die hof geweet wat die uitspraak is. Ons howe raak net so Stomp soos die res van die staat

Karlahari ·

Hulle was “besorg” oor die kinders se welsyn, maar nou is die lekgotla en Blue Label belangriker.
Ek is bereid om bydrae vir hof onkoste vir vervolging te maak. Is daar rekening besonderhede beskikbaar?

Johanna ·

Dis darem lekker die regering en sy departemente hoef nie gehoor te gee aan hof uitsprake, maar ons gewone mense word gearresteer as ons nie gehoor gee daar aan. Wat se voorbeeld stel hulle? Die gaan nog ‘n 2de Ezidemeni word. Iemand kry gou weer baie geld vir werk wat hulle nie eers kan doen of behoorlik kan omsien na die kinders. Daar word seker na die kinders nou gesoek om die volle getal terug te kan gee. Hoekom mag niemand weet waar daai kinders is? Ek hoop die kinders se weergawes wanneer hulle ooit gevind word word bekend gemaak. Dink ook die gemeenskappe van daardie dorpe moet gaan betoog by die departement tot hulle se waar die kinders is. Of bel die polisie kommissaris van KZN en dring daarop aan dat die in beheer gearresteer word. Hoekom moet nog regskoste aangegaan word daar is mos klaar ‘n bevel. Ek bid en hoop die kinders is oraait.

Annalie ·

Dis hartverskeurend. Gelukkig wag daar `n groot verrassing en liefde sodra hulle terugkeer

Fryingfrog ·

Soiets maak my doodbang! Kan ‘n mens nie na die kinders gaan soek nie? Waar is hierdie sog. staatstehuise? Ons dorp het nie een nie, maar watter dorpe het wel? Het geen kind ‘n selfoon nie? Ek is so bang dat iemand iets gaan oorkom. Wie wil 200 kinders ekstra in tehuise hê as dit nie oor geld gaan nie????!!!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.