‘KZN kom weer op die been ná vloede’, sê premier

Sihle Zikalala, premier van KwaZulu-Natal. (Foto: Sihle Zikalala/Facebook)

KwaZulu-Natal is stadig maar seker besig om weer op die been te kom nadat die verwoestende oorstromings meer as 85 000 mense in die provinsie geraak het. Dié provinsie gaan egter steeds gebuk onder die impak van die oorstromings en die jongste weerwaarskuwing laat inwoners sidder om te dink dat nog verwoesting gesaai kan word.

Sihle Zikalala, premier van KwaZulu-Natal, het Donderdag die stand van sake in die provinsie uiteengesit en meen dat hierdie oorstromings “grootskaalse verwoesting ontketen het en ʼn ondenkbare pad van vernietiging agtergelaat het”.

Die amptelike syfers wat tot dusver beskikbaar gestel is, wys dat altesame 448 mense in die oorstromings dood is, terwyl 50 beseer is en 88 steeds vermis word.

Meer as 27 000 huishoudings is deur die oorstromings geraak met sowat 8 500 huise wat heeltemal vernietig is en 13 500 wat gedeeltelik vernietig is. Byna 7 000 mense is weens die verwoesting dakloos gelaat.

“Hierdie oorstromings is die ergste in die geskiedenis en het die grootste humanitêre krisis in ons land ontketen,” het Zikalala gesê.

Volgens die premier het die plaaslike en nasionale regering reeds toegesien dat al die persone wat deur die vloede geraak is, veilig is en dat hul basiese behoeftes daagliks bevredig word.

Tans het die provinsie 91 strukture wat as skuilings gebruik word vir die duisende mense wat dakloos gelaat is. Die regering, in samewerking met maatskaplike vennote en nie-winsgewende organisasies, verskaf onder meer kospakkies, komberse, higiëniese middels en sielkundige ondersteuning aan hierdie individue.

Diensverskaffers is reeds aangestel om byna 2 000 tydelike residensiële eenhede in die provinsie op te rig. Altesaam 77 hiervan is reeds voltooi, maar Zikalala erken dat dié projek op sigself ʼn uitdaging is, aangesien daar nie baie geskikte grond is wat nie deur die oorstromings geraak is nie.

Altesaam 630 skole is weens die oorstromings beskadig, maar almal is intussen weer oopgestel en funksioneer soos normaal nadat van die skole van tydelike mobiele klaskamers voosien is.

Openbare infrastruktuur verwoes

Die koste wat die oorstromings aan openbare infrastruktuur aangerig het, word amptelik op R25 miljard beraam, met die grootste skade wat aan paaie, spoorlyne, brûe, behuising, water en elektrisiteit aangerig is.

“Die watertoevoer is boonop steeds onderbreek in ʼn gebied soos dié van Tongaat, aangesien hierdie gebied veral onder die verwoesting deurgeloop het.”

Die oorstromings het veral die watersuiweringsaanleg in oThongathi ernstig beskadig en herstelwerk aan hierdie aanleg sal na verwagting maande lank duur teen ʼn geraamde koste van R30 miljoen.

Die munisipaliteit het intussen bykomende watertenkwaens in woongebiede geplaas en verskeie boorgate is reeds deur weldoeners en lede van die gemeenskap gesink.

Terwyl die watertoevoer in sommige gebiede power is, sukkel ander weer met die kwaliteit daarvan en is die munisipaliteit tans besig om aandag te gee aan hoë vlakke van E. coli in die water.

“As gevolg van hierdie verwikkelinge sal daar steeds deurlopend waterbeperkings in alle KwaZulu-Natalse munisipaliteite wees totdat ons weer terugkeer na normaal.”

Plaaslike ekonomie in duie

Volgens ʼn opname deur die departement van handel, nywerheid en mededinging is minstens 826 maatskappye deur die oorstromings geraak. Die skade hieraan beloop sowat R7 miljard.

“Die skade aan die Toyota-fabriek het die maatskappy genoop om dié perseel tydelik te sluit, en gevolglik sit ongeveer 30 000 werknemers regdeur die vervaardigingsbedryf nou sonder werk,” sê Zikalala.

“Dit beteken dat werknemers vir ongeveer drie maande sonder betaling kan wees, gegewe die erns van die skade by dié fabriek.”

Zikalala sê hy was egter bemoedig om te hoor dat Toyota en ander ondernemings weer in KwaZulu-Natal wil herbou, ten spyte van die terugslae en verliese wat hulle ervaar het.

Weerwaarskuwing

Vloedskade in KwaZulu-Natal (April 2022) (Foto: Marco Longari / AFP)

KwaZulu-Natal se provinsiale regering het vandeesweek ʼn ernstige weerwaarskuwing van die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) vir die naweek ontvang.

“Ons is in kennis gestel dat indien KwaZulu-Natal ʼn bykomende 20 mm reën ontvang, daar ʼn moontlikheid bestaan vir nog oorstromings, aangesien die grond nog versadig kan wees ná die onlangse reën,” sê Zikalala.

“Ons is boonop gewaarsku om moontlik sneeuval en ysige temperature te verwag.”

Die premier het egter inwoners gerus gestel dat sy rampreaksiespanne ten volle voorbereid is.

“Ons doen ʼn beroep op ons medeburgers om ag te slaan op die waarskuwing, veral diegene wat in gebiede woon waar oorstromings ʼn groot moontlikheid is,” sê hy.

“Die provinsie het skaars herstel van die onlangse oorstromings en baie gebiede en infrastruktuur is steeds kwesbaar. Ons moet nou alles moontlik doen om opvolgende rampe te vermy.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Janee ·

Dis maar n swak been wat nou eers begin opstaan….en dit na hoeveel weke???? Volgende jaar hierdie tyd sit ons nog in dieselfde situasie…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.