KZN- korrektiewe beamptes met messe gesteek

Argieffoto bloot ter illustrasie.

Twee korrektiewe beamptes is Dinsdagoggend by die Durban-gevangenis in KwaZulu-Natal deur gevangenes oorval en met messe gesteek.

Singabakho Nxumalo, woordvoerder van die departement van korrektiewe dienste, sê die twee beamptes was besig om oop te sluit toe hulle aangeval is.

Die betrokke gevangenes is volgens die departement reeds geïdentifiseer en sal strafregtelik aangekla word. Tugstappe sal ook teen diegene verantwoordelik vir die “barbaarse” voorval gedoen word, sê Nxumalo.

Volgens Nxumalo was die aanval “opportunisties” en sal dit nie geduld word nie. “Die departement van korrektiewe dienste sal streng optree teen diegene wat sy amptenare aanval.”

Die departement het intussen ook ’n voorval veroordeel waartydens ’n gevangene van die Umzinto-gevangenis in KwaZulu-Natal Maandag na sy dood geval het toe ’n brand by dié gevangenis ontstaan het.

’n Groep gevangenes het glo tydens die brand van die geleentheid gebruik gemaak om te probeer ontsnap en het op die dak geklim. Een van die gevangenes het egter tot op die grond geval en aan sy beserings beswyk.

Dit lyk nie of enige van die gevangenes daarin kon slaag om te ontsnap nie. Die brand is intussen in bedwang gebring.

Nxumalo sê voorts die departement veroordeel enige pogings deur gevangenes om die “veiligheid in die sentrum” te ondermyn ten sterkste en sal nie huiwer om streng teen diegene op te tree nie.

Maroela Media het vroeër berig die situasie by die Umzinto-gevangenis is intussen ontlont en alle gebeurlikheidsplanne is in werking gestel sou enige betoging by die gevangenis uitbreek.

Plundering in KwaZulu-Natal duur intussen voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Belinda

nou check hulle nie die selle vir wapens ens nie? of is dit te veel werk?

marius

Tug stappe ? Wat is dit met onsamehangende twak wat so oor mense se lippe spoel ??

Nico

Watter soort tugstappe gaan geneem word.