Maj. Thulani Zwane, woordvoerder van die polisie, het gesê die man is in KwaMsane in hegtenis geneem nadat sy motor deursoek is. Volgens Zwane is ʼn 9mm-pistool, ʼn .38-rewolwer en ammunisie in die man se besit gevind.
Volgens Zwane sal die man aanvanklik van die besit van ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie en die besit van gesteelde goedere aangekla word. “Die vuurwapens sal vir ballistiese toetse gestuur word om te bepaal of dit vir enige moorde en ander misdade in die land gebruik is.”
Zwane het gesê volgens voorlopige ondersoek kan die vuurwapens moontlik verbind word aan moorde wat in Johannesburg gepleeg is. Geen verdere besonderhede is hieroor bekend gemaak nie.
Die verdagte sal na verwagting Maandag in die Mtubatuba-landdroshof verskyn.