KZN: Nóg DA-raadslede glo aangeval, aangerand

Geoff Pullan (Foto: ANA)

Die Demokratiese Alliansie (DA) het Sondag geëis dat die polisie dringend ondersoek instel na gewelddadige gedrag onder raadslede in KwaZulu-Natal nadat nóg twee van dié party se eThekwini-metroraadslede glo aangeval en aangerand is.

Nicole Graham, die DA se koukusleier in die eThekwini-metroraad, sê dit blyk dat misdadigers in die provinsie dié party in die provinsie van stryk wil bring.

In die eerste van dié voorvalle is Geoff Pullan, raadslid van wyk 58, volgens Graham vroeër dié week na bewering deur ʼn wykskomitee-sekretaris aangeval en aangerand tydens ʼn komiteevergadering. Sy sê die wykskomitee-sekretaris het Pullan se kop teen ʼn muur en venster geslaan.

Sihle Magubane, ʼn DA-raadslid, is volgens Graham in ʼn tweede afsonderlike voorval in Mhlathuze deur ANC-lede aangeval ná ʼn konfrontasie oor ʼn onthaalplek wat die DA glo vir ʼn vergadering bespreek het.

Graham sê beide voorvalle is by die polisie aangemeld en word tans ondersoek. Sy sê die DA eis binnekort antwoorde, aangesien dié tipe gedrag geen plek in ʼn demokratiese samelewing het nie.

“DA-raadslede bevind hulself in toenemend gevaarlike situasies in eThekwini en die provinsie as geheel, en dit vereis dringende aandag deur beide die stad en die SAPD. Ons hoop raadslid Pullan herstel spoedig en sal nie toelaat dat hierdie gedrag ons van stryk bring om verandering in KwaZulu-Natal te bewerkstellig nie.”

Dié bewerings kom nadat Warren Burne, ook ʼn DA-raadslid, vroeër die jaar ook aanklagte van aanranding teen ʼn lid van sy wykskomitee aanhangig gemaak het.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Geen hoop meer ·

Ek is bevrees daar is nie meer plek vir redelike persone in SA oor nie. Ons word verswelg deur alles wat teen normale waardes indruis. Kriminaliteit vier hoogty en ek is bevreees die misdadige golf is ontstuitbaar.

pieter ·

Wat soek hulle nog by die DA as hulle leier praat van “white priveledge “terwyl daar gediskrimineer word deur wette in plek teen die regverdige behandeling van wit mense.

Oom Kalahari ·

Met aanloop tot die 2019 vetkiesings veldtog gaan hierdie tipe van aanvalle en misdaad meermale plaasvind en ANC/EFF lede sal alles in hul vermoeens doen dat die sogenaamde ondersteunings basis nie ingesypel word en na ander partye swaai nie. Mnr & Mev Zuma is ook nog baie populer in daardie streke buiten die IVP (IFP). Party verteenwoordigers moet maar op hul hoede wees en konfrontasies vermy. Sterkte en hoop jy herstel spoedig Mnr Geoff Pullan.

Landi ·

Dit bewys net hoe ongeleerd die ANC lede is. Dat hulle glad geensins beskik oor n woordeskat of kommunikasie vermoee of gevorderde en ontwikkelde denke met oplossings en verbeteringe… Dit bewys dat die deffinissie van demokrasie nie geken word of op die hart gedra word vir ons land se belange nie, uit onkunde. Die hartseer is dat die EFF so vrot swak optree dat hulle die ANC skoon na proffesore laat lyk… En die ANC laat die EFF lyk na spul kleintjies wat nog n kleding styl probeer ontdek, en met vetkryt teen die mure skryf as jy nie kyk nie.

Theresa ·

Verwyder die rampokkery uit elke vlak van politici. Hul stel ‘n vieslike voorbeeld vir ‘n reeds opstandige jeug. Sies man!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.