Vyf mense is Saterdag dood en 11 beseer in ʼn ongeluk tussen ʼn minibus, ʼn motor en ʼn vragmotor in Ladysmith, KwaZulu-Natal.
“Vier vroue en ʼn kleuter is omstreeks 17:30 op die toneel in Petersweg dood verklaar,” het Robert Mckenzie, woordvoerder van die provinsiale nooddienste, gesê. “Vier van die oorledenes het in die minibustaxi gery en die bestuurder van die motor is ook oorlede.”
Die taxi se passasiers moes met meganiese toerusting uit die wrak gesny word.
“Drie persone het kritieke beserings opgedoen, ses het ernstige beserings opgedoen en twee is slegs gering beseer,’ het Mckenzie bygevoeg. Hulle is almal na Ladysmith-hospitaal geneem vir verdere behandeling.
Volgens Mckenzie is ʼn paar persone uit die motor ook privaat na hospitale geneem vir verdere behandeling. Paramedici het nie inligting oor hierdie persone nie.
Die oorsaak van die ongeluk is nog nie bekend nie.