KZN-onnie geskors oor lyfstraf

Argieffoto

Argieffoto

ʼn Onderwyser van KwaZulu-Natal is geskors nadat hy glo lyfstraf toegepas het op leerlinge wat laat was vir skool.

“Die onderwyser van Hoërskool Lugobe naby Umbumbulu aan die Suidkus is Maandag geskors,” het Muzi Mahlambi, woordvoerder van die departement van onderwys in KwaZulu-Natal, Dinsdag gesê. “Die onderwyser het glo ʼn plastiekpyp gebruik om dissipline toe te pas nadat van die leerlinge laat opgedaag het vir skool.”

Mahlambi sê dit is ʼn kriminele oortreding vir onderwysers om lyfstraf toe te pas en die departement sal “ernstig” en “toepaslik” optree. “Ons het ʼn zero-toleransie vir onderwysers wat lyfstraf toepas.”

Volgens Mahlambi word voorvalle van lyfstraf in skole weekliks sedert die begin van die skooljaar aangemeld. “Dit is ʼn baie ernstige saak as mens die aantal voorvalle in ag neem.”

Hy sê die departement sal alles in sy vermoë doen om skoliere te beskerm. “Die hoof van die departement het weer ʼn omsendbrief na onderwysers uitgestuur om hulle te herinner dat lyfstraf nie geduld sal word nie,” het hy bygevoeg.

Dumisile Nala, nasionale hoof uitvoerende beampte van Childline, het gesê lyfstraf in openbare skole word verbied en onderwysers wat dit toepas oortree die wet. “Kinderregte is menseregte soos vervat in die Grondwet,” het Nala gesê. Sy sê kinders het die reg om beskerm te word in ʼn skoolomgewing en onderwysers wat dié reg skend moet gerapporteer word.

Nala sê skole moet ʼn gedragskode opstel en onderwysers inlig hoe om dissipline te hanteer. Sy stel voor dat leerlinge, wat ontwrigtings veroorsaak, uitskryfwerk moet kry of aan detensie onderwerp moet word. “Ouers moet ook meer tyd saam met hul kinders spandeer, aangesien kinders soms net iemand nodig het om mee te praat,” het sy gesê. –SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Ben ·

Dit is vandat lyfstraf weggeneem is, dis dié dat die jeug uitdraai soos hulle vandag doen. Bring terug die lyfstraf, en kyk watse transformasie in die jeug sal plaasvind!

Shannon ·

Jy’s van jou verstand af. Dis nie die onderwyser se werk om jou kind paksla te gee nie. Hulle is bedoel vir onderrig. Jy moet self jou kind tugtig – as jy voel jy kan dit nie meer hou nie.

Leentjie ·

Ek moet se ek stem saam met Ben,

Kinders vandag het geen respek meer vir die onnies nie, daar is nie daardie gesonde vrees vir ‘n onnie soos in die ou dae nie, hulle hardloop met die geringste dingetjie na hulle ouers toe, en in plaas van dat die ouers hulle tugtig omdat hulle storietjies aandra, word die arme onnie oor die vingers getik. Die ouers is te besig om hulle kinders op te voed, en sien nie eers hulle kinders se foute meer raak nie. Daar is ouers wat nie juis die beste voorbeeld vir die kinders is nie, en weerspieël die kind maar net die huistaal en manier by die skool.

Tyd dat ouers weer terug keer na die opvoeding tuis en hulle kinders met liefde en aandag oorlaai in plaas van Rande in hande te stop en af te laai by die Mall. Leer jou kind eerder om ouer mense te respekteer enOuers moet verstaan dat hulle kinders meer tyd saam met die Onnie spandeer as met hulle, en dat ‘n Onnie ‘n groot rol speel, so laat die Onnie toe om maar jou kind op te voed, want glo my die Onnies doen deesdae ‘n beter “job” as die ouers.

Leentjie ·

Bid eerder vir die Onnies want glo my hulle het dit baie nodig……

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.