KZN-plaasaanval: ‘Hulle het gedreig om hom aan die brand te steek’

Argieffoto: Reint Dykema

Argieffoto: Reint Dykema

Niemand is nog in hegtenis geneem nadat ʼn egpaar van KwaZulu-Natal byna twee weke gelede op hul plaas oorval en aangerand is nie.

Maj. Thulani Zwane, polisiewoordvoerder, het Dinsdag gesê die polisie is steeds op soek na twee mans wat Lourens en Esther Wolmarans op 27 Mei in hul plaashuis in Geluksburg naby Bergville oorval het.

Koos Marais, hoof van veiligheid by die KwaZulu-Natalse Landbou-unie (KwaNalu), het aan Maroela Media gesê twee verdagtes het Esther omstreeks 17:00 by die huis ingewag. Daar was glo beurtkrag in die area, wat veroorsaak het dat die huis in donker gehul was. Die aanvallers het Esther oorval, vasgebind en kamer toe gesleep. Hulle het daarna agter meubels weggekruip en vir Lourens gewag om by die huis te kom.

Toe Lourens by die huis instap, het die mans hom met ʼn knopkierie aangerand, het Marais gesê. “Een van hulle het glo ook ʼn vuurwapen gehad. Lourens het hom natuurlik verset en een van die aanvallers het aanhoudend vir sy makker gesê om Lourens te skiet. Hy het dit egter nie gedoen nie.” Die rowers het Lourens in ʼn kombers toegewikkel en ʼn kan petrol oor hom uitgegooi. Hulle het gedreig om hom aan die brand te steek indien hy nie geld en vuurwapens aan hulle oorhandig nie.

“Esther kon daarin geslaag om haarself los te wikkel en het begin skree om hulp. Die rowers het op die vlug geslaan met net ʼn paar honderd rand kontant,” het Marais gesê. Die egpaar is slegs lig beseer en is nie gehospitaliseer nie.

Marais het die aanval ten sterkste veroordeel en ʼn beroep op die regering gedoen om in te gryp. “Elke plaasaanval is een aanval te veel. Hierdie mense is ons voedselverskaffers en ons kan nie sulke aanvalle bekostig nie,” het Marais gesê.

“Geen boer kan homself tot so mate beveilig dat hy onaantasbaar is nie. Die regering sal moet ingryp en doeltreffende maatreëls vir plattelandse beveiliging in plek kry. Sigbare polisiëring in plattelandse gebiede is van kardinale belang, nie net vir boere nie, maar vir alle inwoners van plattelandse gebiede. Almal ly onder hierdie vlaag van misdaad.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

CHRISTA ·

Vir die ANC is net Zuma se veiligheid van belang, daarom spandeer hulle R240 miljoen daarop!! Die res moet maar self sien ek kom klaar!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.