KZN-plaasmoord: Verdagte het haelgeweer vir polisie gewys

Timothy Green

Timothy Green

ʼn Moordbeskuldigde het die haelgeweer, wat gebruik is om Timothy Green mee dood te skiet, aan die polisie uitgewys, het die hooggeregshof in Pietermaritzburg Woensdag gehoor.

Speurdersersant Eric Eman het gesê hy en ander beamptes het die verdagtes Siyabonga Mhlungu (28) en Mfanakhona Masiteng (23) net na Green doodgeskiet is, in hegtenis geneem.

Green (44), ʼn deeltydse boer en bestuurder van die Shanduka-steenkoolmyn, is op 11 Augustus 2013 op sy plaas in Newcastle doodgeskiet.

Ondanks kopwonde wat hy opgedoen het, het Green sy vriende gebel en hulle versoek om die polisie en nooddienste te ontbied. Toe hulp opgedaag het, was hy reeds dood.

Eman het gesê Mhlungu het hom en sy kollegas na ʼn leë huis geneem en die haelgeweer tesame met haelgeweer- en rewolwerammunisie bo uit ʼn kas gehaal. Volgens Eman was dit Green se haelgeweer. Die hof het vroeër gehoor die geweer is voor die moord al uit sy huis gesteel.

Die polisiebeamptes is daarna na ʼn plakkershuis waar Masiteng gebly het, en Green se selfone is in ʼn kous opgespoor.

Mhlungu en Masiteng het albei onskuldig gepleit op Green se moord en die diefstal.

Die saak duur voort.

Lees alle vorige berigte oor Timothy Green op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

lillian ·

Goed en wel dat die polisie so gou die verdagtes gevang het, dat hulle skuldig gepleit het, maar dit gaan nie hierdie man terugbring nie. Hy is vir altyd weg! En die beskuldigdes gaan lekker in die trunk lewe op die belastingbetaler se geld …

Die doodstraf moet teruggebring word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.