KZN-polisie skiet vermeende rower dood

Argieffoto: https://pixabay.com

ʼn Vermeende huisrower is doodgeskiet toe ʼn skietgeveg Vrydag tussen die verdagtes en die polisie in Umlazi in Durban uitgebreek het.

Kol. Thembeka Mbhele, woordvoerder van die polisie, het Sondag gesê daar is ook beslag gelê op ammunisie en twee ongelisensieerde vuurwapens waarvan die reeksnommers afgevyl is.

“Die polisie was besig met ʼn misdaadvoorkomingsoperasie toe drie insittendes van ʼn Toyota Corolla op hulle losbrand,” het Mbhele gesê.

Die polisie het teruggeskiet en een van die insittendes is doodgeskiet. Die ander twee het te voet gevlug. Die oorledene is in sy vroeë dertigs.

ʼn Saak van poging tot moord is by die Umlazi-polisiestasie aanhangig gemaak. Mbhele het verder gesê ná die polisie se aanvanklike ondersoek is vasgestel dat die motor sowat een uur vroeër tydens ʼn huisroof in Umlozi gesteel is.

“Daar word beweer die drie verdagtes het ʼn huis in Long Acresweg in Amanzimtoti binnegegaan, die eienaars met behulp van wapens van hul waardevolle items beroof en daarna met die slagoffers se motor gevlug.”

ʼn Saak van huisroof word ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

SjN ·

Hoop en vertrou die polisie lede wat die rowers geskiet het is in besit van geldige bevoegdheid om vuurwapen te gebruik, anders kan daar n eis ontstaan aangesien die wet die misdadiger beskerm.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.