KZN polisiehoof weer geskors

Lt.genl. Mmamonnye Ngobeni. Foto: SAPD

Lt.genl. Mmamonnye Ngobeni. Foto: SAPD

Lt.genl. Mmamonnye Ngobeni, KwaZulu-Natalse polisiekommissaris, is weer eens opdrag gegee om haar kantoor te ontruim nadat die polisie ʼn aansoek ingedien het om teen ʼn hofuitspraak wat haar vorige skorsing ophef, te appelleer.

Die polisie wou nie Woensdag bevestig dat hy teen die hofuitspraak wat regter Nkosinathi Chilli in die Durbanse hooggeregshof gelewer het sal appelleer nie. Ravendra Maniklall, Ngobeni se regsverteenwoordiger, het egter gesê dat hy ʼn kennisgewing ontvang het van die polisie se voorneme om teen die uitspraak te appelleer. Maniklall het gesê die kennisgewing het tot gevolg dat sy kliënt weer geskors is.

Die aansoek om verlof tot appèl is vermoedelik laat Maandag of Dinsdagoggend ingedien en Ngobeni is Dinsdag gevra om haar kantoor te ontruim.

Brig. Mashadi Selepe, nasionale woordvoerder van die polisie, het op ʼn vraag oor die appèl gesê die SAPD sal nie werkgewer/werknemer-verhoudingskwessies in die media bespreek nie. “Hierdie departement is op rekord dat ons gesê het die uitkoms van hofprosesse word gerespekteer en dat die relevante prosesse aan die gang gesit sal word saam met die gepaste owerheid soos deur die wetgewing van ons land bepaal,” het Selepe gesê.

Ngobeni is in Mei vanjaar geskors. Lt.genl. Khomotso Phahlane, waarnemende nasionale polisiekommissaris, het Ngobeni ingelig dat hy beplan om ʼn kommissie van ondersoek saam te stel om bewerings van wangedrag en haar bevoegdheid om haar amp te beklee te ondersoek.

Regter Chilli het bevind dat Phahlane nie by magte is om so ʼn besluit te neem nie en dat hy die ondersteuning van die minister van polisie en die provinsiale uitvoerende raad ook moet hê.

Ngobeni is in die kollig geplaas nadat bewerings aan die lig gekom het dat die sakeman Thoshan Panday vir haar man se uitspattige verjaardagpartytjie betaal het. Daar word ook beweer dat sy die hoof van die Valke in KwaZulu-Natal opdrag gegee het om ʼn ondersoek na Panday se beweerde betrokkenheid by ʼn R60 miljoen-akkommodasietender vir die polisie te beëindig.

Ngobeni beweer sy het Panday terugbetaal vir die partytjie en ontken dat sy ingemeng het met die ondersoek teen hom wat deur genl.maj. Johan Booysen gelei is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Simon ·

Die klomp korruptes sal klou aan al hul poste en is te arrogant om enige hof uitsprake te respekteer. Hul hoort in die tronk en nie as wetstoepassers of presidente nie. “Who said crime does not pay, from Prisoner to President” hul lese!

Marietjie ·

Simon ek stem saam, hulle word geskors vir jare met volle salaris wat die belasting betaler voor moet betaal. Dit is al die hoeveelste een wat geskors word, ek wonder hoeveel mans en vrouens wit en swart in die polisie is nog eerlik in hul werk.

Ben Prinsloo ·

Sy moet vir ons haar cv wys wat haar pos regverdig, ek wil sien hoeveel skelms het sy al gevang en hoeveel sake sy al opgelos het. Dit is mos die hoofdoel van n polisieman of in die geval vrou.

Tammy ·

Wat n stinkende skande. Is die polisie ook besig met toesmeerdery? Is die vrou regtig haar pos werd? Regtig? of is dit ook n gevalletjie van kwotas? Wonder baie hard oor die een.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.