‘Daar moet openlik oor plaasmoorde gepraat word’

Die Solidariteit Beweging het ’n bewusmakingsaksie teen plaasmoorde by die Voortrekkermonument in Pretoria gehou (31 Oktober 2017). Foto: Reint Dykema

Die premier van KwaZulu-Natal het Donderdag gesê dit is tyd om standpunt in te neem teen plaasmoorde en openlik oor die probleem te praat.

Premier Willies Mchunu het gesê moorde op boere is ʼn probleem. “Wanneer ons met boere praat lyk dit asof hierdie kwessie op hulle as boere gemik is. Ons moet daaroor praat aangesien die beskerming van die meeste boere gegrond is op die regstel van die welstand en die verhouding tussen die plaaswerkers, plaasbewoners en die bure,” het Mchunu gesê.

Mchunu, ook die provinsiale adjunkvoorsitter van die ANC, het tydens die Jan Slabbert-gedenklesing in Vryheid gepraat. Slabbert was ʼn voormalige burgemeester van Vryheid, ʼn LP van die Inkatha Vryheidsparty (IVP) en het later by die ANC aangesluit.

Mchunu het ook gesê die feit dat plase dikwels afgeleë is, het tot gevolg dat baie boere kwesbaar is.

“Ons moet ʼn atmosfeer skep waarin mense omgee vir mekaar en waar bure en mense in die gemeenskap alle verdagte persone sal aanmeld,” het Mchunu gesê.

Volgens hom moet sterk kommunikasiekanale en -stelsels met die plaasgemeenskap deel wees van die voorkomingstrategie. Hy meen dít en die verbetering van arbeidsverhoudinge tussen plaaseienaars en mense wat op die plase woon sal help om ʼn beskermende omgewing te skep.

“Daar is nog baie werk wat ons moet doen om verhoudings tussen wit boere en hulle swart werkers reg te stel. Die probleem vir wit boere is die ligging van hulle huise. Omdat hulle ver uit mekaar en ook ver van hulle werkers af woon neem dit tyd om die nuus van ʼn aanval te versprei. Om hande te vat is baie belangrik,” het Mchunu gesê.

Hy het weer eens sy toewyding tot die stryd teen misdaad uitgespreek.

Volgens hom kan dieselfde kollektiewe poging wat gebruik is teen apartheid ook gebruik word in die stryd teen misdaad. Hy meen ekonomiese groei en intensiewe vaardigheidsontwikkelingsprogramme kan op lang termyn die oplossing vir misdaad word.

“Behalwe om volhoubare rolle vir gesinne te skep is dit ook belangrik dat daar hulpbronne aan die staat beskikbaar gestel word om die lewenskwaliteit van ons mense te verbeter deur beter infrastruktuur soos ordentlike huise en die uitwissing van onveilige nedersettings te bewerkstellig. Dit is wat Jan Slabbert bepleit het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Leahim ·

Dit is n begin maar dit moet nie net by praat bly nie daadwerklike optrede moet gedoen word ,skep meer satelliet stasies in afgeleë plekke lei werklose gekeurde persone en bemagtig hulleom die areas te bewaak en te patrolleer.STOP NET DIE AANSLAG OP DIE BOERE SODAT HULLE HULLE WERK KAN DOEN OM DIE MENSE TE VOED.

B-man ·

Dit klink vir my asof Mchunu net weer die onus by die boere geplaas het. Dat hulle beter verhoudings met werkers moet hê en nader aan mekaar bly en vaardighede moet ontwikkel en en en… waar en wanneer gryp die regering in? Plaasaanvalle is nie die boere se skuld nie, maar die misdadigers wat dit uitvoer.

Kiepie ·

Ek weet ek gaan gekruisig word, maar ek is redelik keelvol vir hierdie klem op plaasmoorde. Dis tyd dat die regering en die volk as ‘n geheel standpunt inneem teen die algemene kriminaliteit en wetteloosheid wat in die land heers (en ja, waarvan plaasmoorde een van vele simptome is). Om een aspek uit te lig en aan te spreek gaan nie die groter probleem oplos nie, dit gaan net maak dat die krimenele se fokus verskuif en om dan tevrede te wees dat die probleem opgelos is omdat dit jou nie meer raak nie is om volstruis politiek in die ergste graad toe te pas.

CG ·

Kiepie. Dink jy regtig dit is realisties om te verwag dat die regering standpunt sal inneem teen kriminaliteit en wetteloosheid? Onthou, dit sluit dan staatskaping en korrupsie in!

Willies Willie horie ·

Nou ja toe nou. Willies Mchunu skop af pale toe met die aframmel van ‘n opstel oor “goeie menseverhoudinge!” Dan plaas eienaars is “plaas bewoners.” Ai, en dan word die politieke buiksprekers met bloed tussen hulle tande, sommer saggies verskoon. Jy sal nie hiermee wegkom nie Willies! Die geskiedenis maak aantekeninge! Hou dit in gedagte! Medepligtes aan hierdie selfvoldane gees wat jy adem, sal nie seëvierend uitstap nie!

m.d.r ·

Is die verhouding tussen boere en hulle werkers dan werklik die oorsaak van die moorde …?

Hoeveel plaasmoorde is deur werkers geleeg…? Of reel die werkers iemand anders om namens hulle die moorde te pleeg….?
Iets klink nie lekker in Ou Willies se standpunt nie…

Johann ·

Ek gaan aanhou dit sê totdat Solidariteit dit HOOR! HOU OP om met elke geleentheid Voortrekker Monument toe te hardloop! Dis NIE die bastion van ons hedendaagse Afrikaner nie! Die negatiewe assosiasie daar mee is nie tot voordeel van ons as Afrikaner nie. Gebruik die fotos van DUISENDES war in die Kaap bymekaar was teen plaasmoorde…nie julle paar honderd stoere “bore volk” Monumenters nie!

CG ·

Johann. As jy jou wil distansieer van alles wat n “negatiewe konnotasie”vir die Afrikaner is, sal jy jou velkleur, taal, kultuur, waardes…. jou alles, moet versaak.

CHRISTA ·

Ek het nog nie van EEN plaasboer gehoor wat sy werkers met ‘n bal en ketting gevange hou om vir hom op sy plaas te werk nie. Soos ENIGE ander werknemer, kan ‘n plaaswerker ander werk soek en die plaas verlaat! My pa het werkers gehad wat meer as 30 jaar vir hom gewerk het. Een werker het by hom begin werk op sy 21ste verjaarsdag en toe my pa op 54 jarige ouderdom te sterwe gekom het het DIESELFDE man nog steeds by ons gewerk!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.