KZN-premier gaan aftree ná verkiesing

Willies Mchunu, premier van KwaZulu-Natal, spreek die media toe by die skouterrein in Pietermaritzburg nadat hy vroeër die dag flou geword het. Foto: ANA

Willies Mchunu, die premier van KwaZulu-Natal wat Woensdag tydens sy provinsiale rede flou geword het, sê hy sal ná die verkiesing in Mei vanjaar aftree.

Mchunu sê hoewel hy nie meer deel van die regering sal wees nie, sal hy steeds aktief wees in ANC‑ en SAKP-strukture.

Maroela Media het vroeër berig Mchunu het gister halfpad deur sy provinsiale rede in Pietermaritzburg gestop en Sihle Zikalala, ANC-voorsitter in KwaZulu-Natal, gevra of hy met die provinsiale rede kan voortgaan. Hy het gesê hy “ervaar ʼn uitdaging” en daarna ten aanskoue van die gehoor flou geword.

’n Man het Mchunu betyds gevang voordat hy inmekaargesak het, maar hy het flou en gedisoriënteerd voorgekom. Hy is van die verhoog af gelei en daarna per ambulans na ʼn hospitaal geneem.

Net ʼn paar uur later was Mchunu egter in ʼn vrolike luim terug by die skouterrein. Hy het grappies gemaak saam met oudpres. Jacob Zuma en koning Goodwill Zwelithini wat ook die geleentheid bygewoon het.

Mchunu het tydens ʼn mediakonferensie gesê dokters by die hospitaal het toetse gedoen en kon geen fout vind nie. Hy het gesê hy is heeltemal gesond genoeg om sy premiersverpligtinge voort te sit.

“Ek is doodreg. Wat vandag gebeur het, was net omdat daar baie hitte was waarskynlik oor al die ligte wat op my geskyn het. Ek het gesukkel om asem te kry. As ek water gedrink het voordat ek by die podium gaan staan het, sou daar nie ʼn probleem gewees het nie,” het hy gesê.

Hy het erken dat hy oor die jare nie sy liggaam genoeg kans gegee het om te rus nie weens ANC- en regeringsverpligtinge.

“Wanneer mens so lank in die regering was, kom daar ʼn punt wat jy moet erken dat jy nie jou liggaam oor die jare genoeg rus gegee het nie. Daarom sien ek uit om die regeringsverpligtinge agter te laat wanneer die tyd kom,” het Mchunu gesê.

Mchunu het in Mei 2016 premier geword. Sy gesondheid het die afgelope paar jaar agteruitgegaan en verlede jaar het hy die opening van die wetgewer misgeloop weens swak gesondheid. Zikalala het vir die grootste deel van Januarie as premier waargeneem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Dries du Toit ·

Hy het grappe gemaak saam met Zuma ?? Dit klink na n ernstige grap.

Maljan ·

Anc en sakp. Dis nou wragtig wydsbeen deur die politiek ry.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.