KZN-premier ‘jammer’ ná hy plunderaar bykom

‘n Skermskoot van die video op Twitter.

Die premier van KwaZulu-Natal, Sihle Zikalala, het Donderdag om verskoning gevra nadat hy ’n plunderaar met die vuis bygedam het.

Die voorval het Woensdag met televisiekameras aanwesig plaasgevind tydens Zikalala en sy afvaardiging se besoek aan gebiede in KwaZulu-Natal wat veral erg onder plundery deurgeloop het.

Die beeldmateriaal, waarin daar gesien kan word hoe die premier ’n plunderaar naderhark en twee houe op die rug toedien voordat die jong man weghardloop, word sedertdien wyd op sosiale media versprei.

Die kantoor van die premier sê in ’n verklaring die plunderaar het ten tyde van die voorval probeer spore maak met goedere wat hy by ’n nabygeleë pakhuis gesteel het.

“Die premier vra onomwonde verskoning oor die voorval en betreur die vlak van geweld wat gebruik is om ʼn plunderaar aan te keer.

“Hoewel die optrede om ʼn plunderaar aan te keer geregverdig is, word die manier waarop dit gedoen is, betreur,” lui die verklaring.

Verskeie mense, onder wie Floyd Shivambu, adjunkpresident van die EFF, het op Twitter teenoor die premier uitgevaar. “Sihle Zikalala is dwaas en moet verantwoordelik gehou word vir die gepeupelreg.”

Die kantoor van die premier sê voorts Zikalala is van mening dat openbare geweld geen plek in die samelewing het nie en dat diegene wat plunder en verwoes, nie in Suid-Afrikaanse mense se waardes deel nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

64 Kommentare

jongste oudste gewildste
Kobus

Floyd , onthou jy onderonsie met die journalis/fotograaf? Waarom vra die ou omverskoning?

Ilze

Moenie omverskoning vra nie mnr die premier.

Elize

Dis wat my verbaas van die lewe nou. Die wat reg is moet omverskoning vra vir kriminele. Help my, ek verstaan nie!!

Snowball

Floyd lewer kommentaar? Hierdie is die grap van die jaar. Hofsake teen hom vir aanranding en hy spoel sy bek uit hieroor.
Zikalala het my simpatie. Ek sou veel erger gedoen het in die aangesig van soveel wetteloosheid.

boerie

Hy sal nie net twee kry as hy in my vasloop nie.