KZN-premier moet waai oor ‘onetiese gedrag’

Die premier van KwaZulu-Natal, Sihle Zikalala (Foto: Motshwari Mofokeng/ANA)

Die DA eis die kop van die KwaZulu-Natalse premier hangende ʼn onafhanklike ondersoek na die fiasko waartydens Sihle Zikalala daarvan beskuldig is dat hy ʼn watertenkwa vir sy gesin se eksklusiewe gebruik buite sy huis laat staan maak het.

ʼn Herrie het losgebars oor bewerings dat Zikalala die watertenkwa na sy eie huis in La Mercy herlei het. Dit is deel van ʼn vloot wat vloedgeteisterde inwoners, van wie talle dakloos gelaat is, moet bedien. Heelwat infrastruktuur is in die oorstromings verwoes en groot gebiede sit sonder water.

Zikalala se kantoor het ontken dat die tenkwa vir die premiersfamilie se uitsluitlike gebruik was en sê die premier het die tenkwa vir die gemeenskap se gebruik gereël.

ʼn Video van die watertenkwa voor die premier se huis het groot woede veroorsaak, met die premier se kantoor wat luidens berigte intussen aangevoer het dit is “digitaal gemanipuleer”. Zikalala het voorts gesê sy gesin het ook skenkings by ʼn nabygeleë moskee gaan aflewer in ʼn poging om ander inwoners te help.

Die premier het later om verskoning gevra vir die watertenkwa by sy huis.

Die DA in die provinsie hou vol dit is “skokkende magsmisbruik wat neerkom op diefstal” en het Zikalala van “onetiese en misleidende gedrag” beskuldig.

“Wat die premier gedoen het, is om water van die kwesbaarste inwoners in ons provinsie te steel.”

Die nasionale regering het reeds sowat R1 miljard bewillig vir noodleniging, maar daar is groot kommer oor hoe die verspreiding van geld gemonitor gaan word.

“Kan die mense van KwaZulu-Natal die premier en sy kabinet vertrou met die behoorlike verspreiding van die geld? En kan hulle die ANC se eThekwini-leier, Zandile Gumede, vertrou om dieselfde te doen terwyl sy tans op borgtog is weens die meer as 2 000 bedrog- en korrupsieaanklagte teen haar?”

Die DA is ook bekommerd oor ʼn brief wat bepaal dat Gumede en haar meelopers die koördinering en verspreiding van alle hulp moet goedkeur. “Dit is ʼn duidelike aanduiding dat daar tans twee magsentrums in KwaZulu-Natal is en dit voorspel net nog slegte nuus vir die provinsie se mense,” sê die party.

Die DA sê hy het geen vertroue in Zikalala nie en dat sy goeie naam aan flarde is.

“Die ANC se bewind in KwaZulu-Natal is ʼn ramp van begin tot einde en die mense moet die provinsie opbou elke keer dat daar ʼn krisis is.

“Namate die dae in weke verander, gaan KwaZulu-Natal hom midde-in ʼn humanitêre krisis bevind tensy die provinsiale regering gelei word deur ʼn premier met ʼn behoorlike plan wat dit sonder vrees of vooroordeel uitvoer.

“Daardie man is nie Sihle Zikalala nie en daarom moet hy met onmiddellike inwerkingtreding opsy staan.”

Die DA sê die premier moet verduidelik waar die provinsie se eie rampbestuurspanne is, en waarom dit aan die DA-geleide Wes-Kaap en ander oorgelaat word om humanitêre hulp te verskaf. Die party soek ook antwoorde oor die beweerde kaping van hulppakkette wat vir inwoners bedoel is.

Die eThekwini-munisipaliteit moes vroeër ook vure doodslaan nadat ʼn amptenaar daarvan beskuldig is dat sy ʼn bakkievrag kospakkies gesteel het. ʼn Video van die beweerde “diefstal” het ook opslae gemaak, maar die munisipaliteit sê die vrou is een van sy amptenare en was aangewys om die skenkings na ʼn township te neem.

Die kosskenkings is glo by ʼn sentrale verspreidingspunt opgelaai waar die munisipaliteit hand bysit om dit na vloedgeteisterde gebiede te versprei.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

LANA is ELANè ·

Ja Nee, so tipies van hierdie korrupte regering, doen wat jy wil moet net nie uitgevang word nie. Hierdie geld wat bewillig word vir KZN kan nie toevertrou word aan die regering om te bestuur nie.
Hierdie ramp is weereens net iets wat hulle gaan gebruik vir selfverryking, ek vertrou nie die mense nie.
Gee die geld vir ñ plek soos Afriforum of Gift of the Givers, sodat dit behoorlik verdeel kan word aan die baie slagoffers in nood voor dit in die ANC se sakke opeindig en hulle weereens vir niks verantwoording hoef te doen nie.

Misky ·

Die premier se kantoor sê dis digitaal gemanipuleer en hyself vra omverskoning m.a.w. hy erken dit. Openlik lieg en dit word maar net aanvaar en geen nagevolge nie. Dan wonder hulle hoekom ons hulle nie kan glo of vertrou nie. As hulle lippe beweeg, dan lieg hulle!!!!

Jannie van Niekerk ·

Hulle praat nie eers die waarheid as hulle dood en begrawe is nie, wat nog te sê as hulle nog leef…

Manie ·

Afrika styl, solank ek het, kan die res om my maar doodgaan.

Swerwer ·

Tipies en dan verwag hul mens moet bydra tot die vloedgesteisterde nedersettings.

domheks ·

viva a n c – die arme mense sal die krummels sien, nie die brode nie!

Porseleintjie ·

Die skip is besig om te sink en die kaptein maak seker dat hy heel eerste op die bootjie na veiligheid spring. Daar is maar net geen karakter nie.

Kobus ·

Oor en weer gelieg. Dan beskerm hulle mekaar, geen gevolge nie. Sien ook dat SAW se onwettige handel in die Entstowwe van broer Kuba ook net afgemaak word as ‘n fout. Die kamtige minister is ” woedend” maar hoe kan sy haarself distansieer van dit? Tegnies is sy mos die “baas” van die SAW?

JM ·

Hoe diep moet ons land nog in die put insak van gemors, eiegeregtigheid, diefstal en leuens? Mag die Vader uitkoms gee. Daar is eintlik nie meer antwoorde nie!

Danie ·

Die regering gaan absoluut niks doen nie want dis mos hulle broers en kie wat in die spervuur is. Die wêreld lag vir hierdie gekkeparadys.

Willem ·

Ek dag ampsdraers moet opsy staan as hul strafregtelik aangekla word?

Dup ·

Die premier wat alles van ñ papier af lees en bitter min opkyk na die kameras..sê nogal baie van die man…..die armes kry swaar en die premier floreer.Maar nouja,hulle word almal ingestem!

Shakespeare ·

Opsy staan is die nuwe korrupte ANC woord. In my jong dae is jy summier afgedank met ‘n klad op jou naam. Julle beskerm jul mede kriminele met die belaglike “opsy staan”. Wys net hoe onherroeplik jul korrupsie is.

Jacobus ·

Ek wonder net vir wie het die mense gestem, wat so buitebande en substasies brand. Jy kan nie jou eie broek bevuil en dan kla dat niemand dit wil was nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.