KZN-regterpresident aangekla

regterpresident-chiman-patel

Regterpresident Chiman Patel. Foto: ukzn.ac.za

Chiman Patel, regterpresident van KwaZulu-Natal, gaan van crimen injuria aangekla word en moet na verwagting reeds volgende maand in die hof verskyn, het The Mercury Donderdag berig.

Volgens die berig het Patel bevestig dat hy ʼn kennisgewing ontvang het dat hy aangekla gaan word.

Daar word beweer dat hy sowat ʼn jaar gelede die vermeende oortredinge begaan het toe hy ʼn vroulike hofklerk aangespreek het, wat glo nie haar pligte doeltreffend uitgevoer het nie.

“Ek gaan nie ondoeltreffendheid in die hooggeregshof duld nie. Ek wil hê hofverrigtinge moet behoorlik verloop,” het hy destyds aan die media gesê oor sy besluit om die klerk aan te spreek.

Meer besonderhede oor die omstandighede wat tot die voorval gelei het, is nog vaag.

Crimen injuria is die wederregtelike en opsetlike, ernstige aantasting of skending van ’n mens se persoonlike waardigheid of privaatheid.

Nathi Mncube, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag, het gesê adv. Moipone Noko, provinsiale direkteur van openbare vervolging, het besluit om die saak te vervolg.

Dit is nog nie duidelik of Patel reeds met ʼn dagvaarding om in die hof te verskyn, bedien is nie, of presies wanneer in November hy in die hof moet wees nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.