KZN rustig voor verkiesing ondanks betogings

KwaZulu-Natal, wat deur die polisie as ʼn hoërisikogebied geïdentifiseer is tydens die nasionale verkiesing Woensdag, was Dinsdag relatief rustig, ondanks betogings in die noorde van Durban.

Lt.kol. Thulani Zwane, woordvoerder van die polisie, het gesê ongeveer 100 mense het Dinsdagoggend van 04:00 in Varsityrylaan en die M19 in Reservoir Hills begin betoog. Die inwoners is vermoedelik plakkers van ʼn nabygeleë informele nedersetting.

Volgens Zwane is geen skade of beserings aangemeld nie. Beamptes van die polisie se eenheid vir openbare orde was op die toneel. “Die situasie is tans kalm,” het hy aan African News Agency (ANA) gesê.

Die Durbanse middestad was ook kalm toe ANA deur die strate gery het – in teenstelling met verlede week toe munisipale werkers paaie met vragmotors versper het en gewelddadige betogings tot botsings tussen betogers en polisiebeamptes gelei het.

Ongeveer 800 inwoners van Siyanda- informele nedersetting, ook in die noorde van Durban, het Maandagaand Dumisani Makhayerylaan met buitebande, wat aan die brand gesteek is, versper en motoriste met klippe bestook, aldus IOL. Die inwoners het gesê hulle is al langer as 10 dae sonder water.

Mxolisi Kaunda, LUR vir veiligheid en sekuriteit in die provinsie, het Dinsdag aan verslaggewers by die OVK se verkiesingsentrum in Mayville gesê die provinsie is gereed vir Woensdag se verkiesing. “ʼn Omvattende plan is saamgestel om vrede en stabiliteit tydens die verkiesing te verseker,” het hy gesê. “ʼn Assessering van al 4 884 stempunte is gedoen en ons kan die 5,5 miljoen geregistreerde kiesers in die provinsie gerus stel dat hulle hul demokratiese reg vrylik kan uitoefen.”

Meer as 1 000 bykomende polisiebeamptes is in KwaZulu-Natal ontplooi om kiesers se veiligheid te verseker. Reserviste en lede van die weermag is op bystand, aldus polisieminister Bheki Cele.

Maroela Media het vroeër berig Sy Mamabolo, hoofverkiesingsbeampte, het gesê die afgelope twee dae van spesiale stemme het gehelp om enige groeipyne uit te stryk sodat die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) slaggereed kan wees vir Woensdag se algemene verkiesing.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

John ·

Hoe op aarde het die mense wat nou nog nie ID’s het nie geregistreer om te stem. Moet mens nie jou dokument toon om op die kieserlys te kom nie? Klink dit nie of hier iewers groot fout is nie. Sulke op-die-nippertjie-dokumentasie… vreemd…

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.