KZN: Temperature styg, damvlakke daal

Die Albert Falls-dam in KwaZulu-Natal. (Foto: Dept. van water en sanitasie)

Inwoners van KwaZulu-Natal word gemaan om water spaarsaam te gebruik terwyl temperature styg en die nasionale departement van water en sanitasie sê hy ʼn daling in damvlakke landwyd sien.

Sputnik Ratau, woordvoerder van die departement, sê damvlakke in KwaZulu-Natal het binne net ʼn week van 52,1% tot 51,7% gedaal.

Ratau sê hoewel die afname onbeduidend mag lyk, is dit rede tot kommer.

“Die hoë temperature laat water verdamp, dit het dus uiteraard ʼn uitwerking op damvlakke. Ons hoop dat die somerreën wat teen die einde van November en die begin van Desember verwag word, die situasie gaan beredder,” het hy gesê.

Die damvlakke van die meeste damme in die provinsie het die afgelope week ʼn gemiddelde daling van 1% gesien.

Albert Falls, een van die grootste damme in die provinsie, het van 30,1% tot 29,2% gedaal. Op optimale vlakke bevat die dam sowat 288 100 megaliter water en beslaan dit ʼn oppervlak van nagenoeg 23 km².

ʼn Daling van 1% is sowat twee miljard liter water.

Ratau sê die departement en munisipaliteite werk saam om watertenks en tenkwaens aan gemeenskappe met watertekorte te verskaf.

“Ons het begrip vir mense se frustrasies en hulle lot. As ʼn departement wie se mandaat dit is om aan hierdie basiese behoefte te voldoen, doen ons ons bes om munisipaliteite te ondersteun om ten beste te funksioneer.”

Hy sê ook diegene wat betrap word dat hulle waterinfrastruktuur beskadig, sal aan die pen ry.

KwaZulu-Natal is nie die enigste provinsie waar damvlakke daal nie. Die Vaaldam in Gauteng se vlak het ook die afgelope week met 1% gedaal.

“Tans staan die Vaaldam op 29,1%, ʼn daling van verlede week se 30,2%,” het Ratau gesê.

Die Vaaldam in Gauteng. (Foto: Dept. van waterwese en sanitasie)

“Selfs terwyl die Vaaldam se vlak weekliks daal, is dit nog nie op ʼn punt waar ʼn sogenaamde dag zero die digbevolkte Gauteng in die gesig staar nie. Die Vaaldam is deel van 14 damme in die geïntegreerde Vaalrivierstelsel wat dit volhou.”

Die situasie met damme in Mpumalanga lyk soortgelyk.

Die gemiddelde damvlakke in die provinsie het van 65,5% tot 64,9% gedaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae