KZN-tesourie tree op teen ‘Mafia-groep’

hof-hamer

Argieffoto

KwaZulu-Natal se tesourie het Dinsdag ʼn hofbevel teen ʼn selfverklaarde sakemafiagroep verkry wat sakeondernemings en regeringsbeamptes in dié provinsie “as gyselaars aanhou”.

Belinda Scott, LUR vir finansies, het in ʼn verklaring gesê sy het ʼn tussentydse bevel by die hooggeregshof in Pietermaritzburg verkry teen die Amadelangokubona Business Forum, die Federation for Radical Economic Transformation (FFRET) en hul leier, Malusi Zondi.

Dié forums het al in die verlede eThekwini Metro-raadsvergaderings en talle multimiljoenrandse konstruksiepersele en projekte van die Suid-Afrikaanse nasionale padagentskap betree en aktiwiteite ontwrig.

Die twee groepe het die afgelope twee jaar ʼn reputasie opgebou dat hulle openbare en privaatgefinansierde konstruksiepersele betree en 30% van alle werk, tenders of werksgeleenthede eis.

ʼn Vergadering van die KwaZulu-Natalse departement van gesondheid is op 6 September ontwrig, glo deur die groep wat Musa Gumede, hoof van die departement, as gyselaar aangehou het. ʼn Video van dié voorval is wyd op sosiale media versprei.

Luidens Scott se verklaring hou die hofbevel verband met daardie voorval, asook ʼn voorval waarin ʼn groep van sowat 40 mense by haar kantoor opgedaag en geëis het dat sy hulle toespreek oor ʼn ingrypingspan wat ernstige korrupsiedade in die KwaZulu-Natalse departement van gesondheid moes ondersoek.

Die respondente word daarvan beskuldig dat hulle onwettig opgetree het deur werkers van die provinsiale tesourie te intimideer, te teister en te dreig en by hul daaglikse aktiwiteite ingemeng het.

Scott het gesê die bevel is bekom om die tesourie se eiendom, sy werknemers, administrateurs, beamptes, kontrakteurs en subkontrakteurs sowel as hul projekte te beskerm.

Scott het verder ook ʼn strafregtelike saak teen die oortreders aanhangig gemaak en gesê dat sy die volle ondersteuning van Willies Mchunu, premier van KwaZulu-Natal, asook die provinsiale kabinet geniet.

“Die regering sal nie as gyselaars aangehou word deur mense wat hul besig hou met kriminele aktiwiteite nie.”

Die forum het tot 9 November om te reageer. Tot en met dan mag sy lede nie verskeie regeringsgeboue, waar onder Natalia House, die Nomalanga-gebou en die Tesourie-gehou in Pietermaritzburg se middestad betree nie.

Die eThekwini Metro het vroeër vanjaar minstens R1 miljoen aan die Federation for Radical Economic Transformation geskenk om ʼn konferensie te hou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Oud Rhodie ·

Feeding the crocodile…”Die eThekwini metro het vroeër vanjaar minstens R 1 miljoen aan die Forum for Radical Economic Transformation gegee om `n konferensie te hou.” Van wanneer af word belastingbetalersgeld net uitgedeel ? Sulke optrede verleen legitimiteit aan rampokkers. Geen wonder dit gaan so nie.

marous ·

Hofbevel gaan dieselfde uitwerking he as ‘n duikpak dra in die middel van die dorre Karoo…

janneman ·

Hierdie 30% eisers slaan al landswyd toe op konstruksie persele en mynbou aktiwiteite, en intimideer werkers om alle werk te staak tot hulle dan wel hulle sin kry. Ons was al vir 52 dae in n ry elke dag deur n ander groep, wat hulleself meestal as businessforums voorhou, gestop tydens konstruksie werk, en almal het iewers in die raad of streeksregering een of ander konneksie, sodat dit feitlik onmoontlik is om een vergaderingbte kan hou waar ALLE moontlike belanghebbendes teenwoordig kan wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.