KZN-universiteit tot einde September gesluit

Foto: Twitter

Foto: Twitter

Studente aan die Universiteit van KwaZulu-Natal (UKZN) sal eers op 29 September kan terugkeer na die universiteit aangesien die kampusse gesluit is ná gewelddadige betogings vandeesweek.

Lesiba Seshoko, woordvoerder van die universiteit, het Donderdag bevestig dat die universiteit vir die res van die week gesluit sal wees. Die universiteitsvakansie begin teen die einde van die week.

Betogings het Woensdagaand op die Pietermaritzburg-kampus voortgewoed, maar meer besonderhede is nie in dié stadium beskikbaar nie. Volgens onbevestigde berigte is ʼn voertuig omgegooi en moes ʼn veiligheidswag hospitaal toe geneem word nadat hy deur studente aangerand is. Seshoko het gesê dit is steeds onduidelik waaroor die studente ongelukkig is en wat aanleiding gegee het tot die betogings.

Maj. Thulani Zwane, woordvoerder van die polisie, kon nie die aanranding bevestig nie, maar het gesê ʼn saak van openbare geweld is aanhangig gemaak nadat kampuseiendom en twee voertuie Woensdagaand beskadig is. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.

Die universiteit is die afgelope paar dae erg deur die betogende studente beskadig. Die eerste betogings het Sondag op die Westville-kampus uitgebreek. Studente op die Pietermaritzburg-kampus het polisie met petrolbomme en klippe bestook.

Die ANC-Jeugliga het in ʼn verklaring beweer die universiteit het die Registrasie Appèlkomitee-proses opgeskort wat studente wat agterstallig is met studiegeld toelaat om voort te gaan met hul studie, terwyl hulle hul skuld in paaiemente afbetaal. Die universiteit beweer egter hulle het geen formele klagtes of eise ontvang nie.

Lukhanyo Mtshingana, die enigste student wat in hegtenis geneem is vir die geweld op die kampus, het Dinsdag vlugtig in die Pinetown-landdroshof verskyn. Natasha Ramkisson-Kara, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), het gesê Mtshingana word aangekla van openbare geweld en opsetlike saakbeskadiging. Hy sal volgende week weer in die hof verskyn vir sy borgtog-aansoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Esmé ·

Studente en werknemers in ons land moet leer verstaan dat studiegeleentheid en arbeidsgeleentheid n voorreg nie n reg is nie. Dis n geleentheid wat baie ander nie het nie. Jou aanvaarding van die voorwaardes word nie opgeskop die oomblik wat jy jou voet in die deur het nie. Dis ongelukkig waar dat elkeen net na sy eie belang omsien. Sommige brand universiteite af en ander brand enige kans op vrede of selfs net verdraagsaamheid af deur hul haatspraak in die media en deur hul kommentaar op publike forums. Verandering gaan slegs een persoon op n slag kom. Laat elkeen van ons poog om daardie persoon te wees in ons omgewing en gemeentskap.

Ronel ·

Ja – dis vreeslik om te besef dat die enigste oplossing vir probleme juis die afbrand en vernietiging van eiendom behels en dan praat ons nie eers van die aanrandings nie, ons is ongelukkig en moet nie in ons pad staan nie. Dis nou ons toekomstige werknemers en werkgewers!!! Is die enigste oplossing dan om alles te beskadig en te vernietig?? Wat gaan in die werksplek gebeur as jul ongelukkig is met die reëls en regulasies?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.