KZN-vloede: Dodetal styg verder; ramptoestand afgekondig

Mariché Fourie

Die dodetal weens die verwoestende vloede in KwaZulu-Natal het tot 306 gestyg.

Sewe leerlinge en ’n onderwyser is onder die oorledenes, het die provinsiale onderwysdepartement gesê.

Die Gelofte Skool in Pinetown het bekend gemaak dat hy een van sy leerlinge aan die dood afgestaan het. Mariché Fourie, ’n gr. 5-leerling aan die skool, sowel as haar ma, Marinda Fourie, en haar ouma, Hester Grobler, is dood nadat hul huis in ’n modderstorting meegesleur is.

Skole in die provinsie is intussen tot minstens 19 April gesluit, met meer as 240 skole wat tydens die vloede beskadig is.

Opruimingsoperasies het in dele van die provinsie begin na die swaar reën wat die afgelope paar dae tot wydverspreide oorstromings gelei het, het Sipho Hlomuka, LUR vir menslike nedersettings, samewerkende regering en tradisionele sake in die provinsie, gesê.

Lede van die provinsiale uitvoerende komitee sal voortgaan met besoeke aan geraakte gebiede om te verseker dat noodleniging aan gemeenskappe in nood verskaf word. Munisipale dienste soos elektrisiteit, water en vullisverwydering is reeds in sommige gebiede hervat.

Die gure weerstoestande sal na verwagting oor die Paasnaweek voortduur en met die grond wat reeds versadig is, kan enige verdere reën tot nog oorstromings en modderstortings lei.

Pres. Cyril Ramaphosa het Woensdag die vloedgeteisterde gebiede besoek. “Ons sien hoe sulke tragedies ander lande soos Mosambiek en Zimbabwe tref, en nou beleef ons dit self,” het Ramaphosa gesê.

’n Provinsiale ramptoestand is Woensdagaand amptelik deur die departement van samewerkende regering afgekondig.

Die klassifisering van die vloede as ’n provinsiale ramp volg op die aanbeveling en assesserings wat deur die provinsiale rampbestuursentrum gedoen is oor die omvang en erns van die impak van die vloede in KwaZulu-Natal, wat tot lewensverlies, skade aan eiendom, infrastruktuur en die omgewing gelei het as gevolg van die swaar reën, oorstromings, sterk winde en grondverskuiwings.

(Foto: Cogta/KZN)

Die berig is gewysig sedert dit aanvanklik gepubliseer is – RED.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Swerwer ·

sò sò hartseer. Innige simpatie en meegevoel aan al die families en naasbestaandes van persone & kinders wat in die vloede oorlede is.

Marius ·

Ek dink die mense wat die kus tradisioneel wil besoek oor die paasnaweek moet twee keer dink. Jy is veiliger by jou huis en as die weer sleg is, soos dit waarkynlik gaan wees, gaan jy op die koop toe baie geld spaar.

Samuel ·

My innige simpatie met al die betrokkenes.

Vir eens het NDZ ‘n goeie besluit geneem.

Koen ·

In die vorige kommentare word alles en almal geblameer. Niks is bestand teen 400mm reën in 24 uur nie. Nie mense wat huise op sandduine bou nie, nie mense wat shanties teenaan riviere bou nie, nie mense wat in laagliggende gebiede bly nie. Hierdie is ‘n natuur ramp. Hou op om alles op die regering en munisipaliteite te blameer. Vanweë klimaatsverandering sal dit heel waarskynlik meer dikwels gebeur. Ek het die ’68 vloede in PE beleef. Net so erg indien nie erger en dit onder die NP regering.

Niklaas ·

Ek kan my nie indink hoe dit moet voel as jy self magteloos wegspoel , of sien hoe jou huis verkrummel , of jou kar wegsink in watermassa. Of nog erger , as jou naasbestaande so iets oorkom as daardie dogtertjie en haar gesinslede. Dis een vreeslike ramp wat daardie gebiede getref het.

JL ·

Ai! Hoe vreeslik bang moes al die mense nie gewees het nie. Innige simpatie met iedereen wat deur die natuurramp geraak word. RIV mense.

Koen ·

Ek wonder of die ou wat hier uitbasuin het dat dit nie ‘n ramp is nie, tot ander insigte gekom het nadat hy die pic gesien het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.