KZN-vloede: Kommer oor werksverlies in motorbedryf

Die Durban-hawe. (Foto: Twitter / Transnet)

Indien die bedrywighede by die Durban-hawe in KwaZulu-Natal nie binnekort hervat word nie, kan talle mense oor die hele land dalk hul werk kwyt wees.

Só het die motorbedryfpersoneelagentskap Misa Donderdag in ’n verklaring gesê.

Misa verwys spesifiek na die verskaffing van motors, onderdele en komponente.

Maroela Media het vroeër berig dat daar reeds ’n agterstand in die vervaardiging van oorspronklike onderdele vir herstelwerk in dié bedryf ondervind word, wat hoofsaaklik deur die Covid-19-pandemie meegebring is.

Martlé Keyter, Misa se hoof- uitvoerende beampte, sê die voortdurende vertragings in die voorsieningsketting wat sedert Rusland se inval in Oekraïne en nou ook die sluiting van die hawe weens ernstige vloede veroorsaak is, is ’n “dubbele slag” vir die motorkleinhandelbedryf.

Transnet is tans besig met die herstel van Bayweg, wat beter toegang tot die Durban-hawe sal verseker. (Foto: Twitter / Transnet)

“Motoriste wie se voertuie herstel word, wag maande lank vir onderdele of komponente om van die buiteland in Suid-Afrika aan te kom.

Hulle kan nie bekostig om onbepaald te wag nie. Intussen droog diensverskaffers se geld op aangesien hulle steeds hul bedrywighede moet voortsit en uitgawes dek, terwyl kliënte hulle eers betaal wanneer werk afgehandel is.” Luidens ’n verklaring deur Misa het Portia Derby, Transnet se uitvoerende hoof, die organisasie verseker dat Transnet onverpoos werk om bedrywighede te herstel en die agterstand in te haal.

Sipho Hlomuka, LUR vir menslike nedersettings, samewerkende regering en tradisionele sake in die provinsie, het Vrydag bevestig dat Transnet goeie vordering met die herstel van Bayweg maak, wat beter toegang tot die hawe sal verseker.

Hy het verder gesê dat 40 723 mense teen Donderdag deur die vloedramp geraak is. Die dodetal staan tans op 395 mense.

Die eThekwini-metro is die hardste getref en pogings om erg beskadigde infrastruktuur te herstel, duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.