KZN-vloede: Meer verwoesting verwag

Woonstelblokke is verwoes deur vloede in Umhloti, noord van Durban. (Foto: MARCO LONGARI / AFP)

Reddingswerkers in KwaZulu-Natal is druk besig om deur die puin en verwoesting van die vloede te werk, op soek na talle vermiste mense, met die vooruitsig van nóg reën wat dreig om hul werk amper onmoontlik te maak.

Teen Saterdag was 398 mense dood en 27 nog vermis. Meer as 40 000 is boonop dakloos gelaat. “Ons is nog besig om die liggame van oorledenes uit die puin van oorspoelde huise te haal. Daar is ook steeds skade wat aangerig word, veral met nóg reën wat vandag (Saterdag) verwag word,” het Shawn Herbst, woordvoerder van Netcare911, aan AFP gesê.

Die weerdiens het meer reënval hierdie naweek vir KwaZulu-Natal voorspel en hoewel dit na verwagting ligter as die afgelope week se reënval sal wees, is die grond reeds deurnat en meer vloede word verwag.

Robert McKenzie, woordvoerder vir Durban se mediese nooddienste, sê hulle het nie baie hoop dat enige oorlewendes nog uit die puin gered kan word nie. “Ons fokus eerder daarop om oorledenes se oorskot te kry en humanitêre verligting te bied.”

Die oorblyfsels van ‘n huis in KwaNdengezi buite Durban, waar tien lede van dieselfde gesin deur vloedwaters meegesleur is. (Foto: Phill Magakoe / AFP)

Reddingswerkers het Vrydag die bosse en modder buite Durban deursoek vir vermiste mense. Tien lede van die Hlope-familie is nou al vir langer as vyf dae vermis sedert vloede Maandag deur hul huis in die KwaNdengezi-nedersetting buite Durban gespoel het. Nog net een lid van die familie se liggaam is in die rivier gevind. Polisie vermoed die res van die familielede se liggame is deur die rivierwater weggespoel.

Die Sibiya-familie het ook drie familielede, onder wie ʼn vierjarige, in die vloede verloor toe hul huis weggespoel het. Hulle is Saterdag deur die adjunkminister vir maatskaplike werk besoek.

Hulp verleen

Volgens ʼn voorlopige verslag van die KwaZulu-Natalse departement van menslike nedersettings is meer as 13 500 huishoudings geraak, minstens 3 927 huise vernietig en 8 097 huise gedeeltelik verwoes. Skoon water is boonop skaars en owerhede het beloof om watertenks aan inwoners beskikbaar te stel.

Luidens ʼn verklaring deur die departement van maatskaplike werk is 337 maatskaplike werkers ontplooi om slagoffers van die vloede by te staan en berading aan te bied. Die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid (Sassa) het ook reeds praktiese verligting in die vorm van kos, skooluniforms en komberse verskaf.

Die liefdadigheidsorganisasie We Are South Africans het ʼn geldinsameling begin om slagoffers van die vloede by te staan en tot dusver 14 ton kos en ander benodigdhede versprei. Nog 20 ton sal na verwagting ná Paasnaweek versprei word. Lede van die publiek word aangemoedig om klere, matrasse, komberse en niebederfbare kos by een van die organisasie se aflaaipunte in Gauteng en KwaZulu-Natal af te laai. Meer inligting is hier beskikbaar.

Bykomende inligting deur AFP.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.