KZN voor stok oor min Covid-inligting

(Argieffoto: pixabay)

Die KwaZulu-Natalse gesondheidsdepartement is Donderdagoggend deur parlementslede van drie groot opposisiepartye (die DA, EFF en VF Plus) voor stok gekry omdat provinsiale amptenare en politici se inligting oor hul hantering van die koronavirus te skraps is – of van die publiek weggesteek word.

KwaZulu-Natal se LUR vir gesondheid, Nomagugu Simelane, het nie gereageer op vrae van die parlementslede Philip van Staden (VF Plus), Siviwe Gwarube (DA) en Naledi Chirwa (EFF) oor die gedokumenteerde swak toestande wat lei tot sterftes in die Wentworth-hospitaal in Durban nie, en sy het ook verseg om te verduidelik waarom die Coastlands Hotel in Durban weer as ʼn veldhospitaal gebruik word nadat dit tydens die eerste golf infeksies verlede jaar duidelik was dat die fasiliteit glad nie aan standaarde voldoen het nie.

Simelane het gesê in KwaZulu-Natal is die tweede golf infeksies baie erger as die eerste een, en dat samedrommings by begrafnisse veral superverspreiders van die koronavirus is. Voorts het die provinsie te doen met ʼn klomp wolhaarstories en samesweringsteorieë wat veral onder plattelandse inwoners versprei en geglo word oor die ontstaan van die virus en die ongeloof oor entstowwe.

Hoewel die provinsiale owerhede hul bes doen, glo baie veral landelike KwaZulu-Natallers dat 5G-seine die virus veroorsaak en dat entstowwe geweier moet word.

Intussen neem die virusgevalle in die provinsie toe teen meer as 5 000 per dag, met die grootste brandpunte in Durban en Pietermaritzburg, asook aan die Noordkus, Suidkus en in die verre suide van die provinsie. Die syfers in die verre suide en aan die Suidkus word vererger daardeur dat baie mense van oor die Oos-Kaapse grens kom om die beter mediese fasiliteite in KwaZulu-Natal te benut.

Gebiede in die KwaZulu-Natalse binneland word effe minder erg getref, met die Amajuba-distriksraad, gesetel in Newcastle, wat die minste deurloop.

KwaZulu-Natal het tot dusver sedert die aanvanklike Suid-Afrikaanse uitbreek van die virus 259 100 gevalle aangeteken, waarvan 64 167 aktief is en 4 870 tans in die provinsie se hospitale behandel word. Samewerking tussen private en staatshospitale in KwaZulu-Natal blyk beter te wees as byvoorbeeld in Limpopo, wie se gesondheidsdepartement ook Donderdag hul voorlegging oor koronavirus gemaak het.

Sowat 46% van al die gevalle in die provinsie kom voor in Durban se eThekwini-metro. Voorts is mense meer geneig om te sterf aan die virus hoe ouer hulle is, en is 54% van die koronavirus-lyers in die provinsie vroue.

Verskeie hospitale se geriewe is aangepas om vir koronavirus voorsiening te maak. Dit sluit in die Usher-hospitaal in Kokstad, die Christ the King-hospitaal in Ixopo, die Charles James-hospitaal in Umlazi, die Don McKenzie-hospitaal in die Vallei van ʼn Duisend Heuwels, die Ntunjambili-hospitaal in Kranskop, die Maphumulo-hospitaal in KwaMaphumulo en die Clairwood-hospitaal in Durban.

Die provinsie het vier veldhospitale opgerig, in Durban, Pietermaritzburg (by die skouterrein), Margate en Empangeni.

Dit lyk tans volgens die provinsiale statistieke asof KwaZulu-Natal se hospitale die huidige vlaag infeksies kan hanteer, met die hospitale wat 73% vol is en die intensiewesorgeenhede 56% vol. Simelane het egter erken die provinsie se databestuur is nie hul sterk punt nie.

Tot dusver het die provinsie genoeg suurstof en medisyne, maar daar is kommer dat dit kan opraak, en dat daar uiteindelik nie genoeg mediese personeel sal wees om al die gevalle te hanteer nie. Voorts is die provinsie se private hospitale basies vol, wat meer druk op staatshospitale plaas.

ʼn Verdere bron van kommer is dat noodreddingspersoneel afgemat en siek raak. Die voortdurende noodsaaklikheid om alles te dekontamineer is volgens amptenare tydrowend, en die provinsie het nie genoeg kundige personeel wat ventilators behoorlik kan gebruik nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.